Nuus 17:00
BULLETIN 23 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK pas meer as 23-duisend stemdistrikte aan volgens nuwe wyksgrense
# Die GOOD-party vra die Reserwebank om rentekoerse te verlaag nadat inflasie daal
# En owerhede sal nie teen Netbal Suid-Afrika se president optree sonder amptelike aanklagte nie
# Die Verkiesingskommissie het meer as 23-duisend stemdistrikte by nuwe wyksgrense aangepas ter voorbereiding vir volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing. Dit volg op die voltooiing van die eerste fase van die munisipale afbakeningsproses deur die Afbakeningskommissie. Die OVK sê die aanpassing van stemdistrikte met nuut afgebakende wyke verseker akkurate kiesersverteenwoordiging en doeltreffende verkiesingsbeplanning. Die OVK se uitvoerende hoof, Sy Mamabolo, vra kiesers om hul registrasiebesonderhede na te gaan en by te werk wanneer die registrasietydperk begin:
# Die GOOD-party sê die daling in inflasie tot 2,7-persent verlede maand teenoor 3,2-persent in Februarie, behoort die Suid-Afrikaanse Reserwebank aan te spoor om druk op verbruikers te verlig. Inflasie is tans onder die teiken van drie- tot ses-persent, en die party versoek die bank se Monetêre Beleidskomitee om rentekoerse te verlaag. Die sekretaris-generaal, Brett Herron, sê talle burgers sukkel met skuld, en ‘n moontlike verhoging van 0,5-persentasiepunte in BTW sal sake net vererger.
# Die Vereniging van Staatsamptenare is woedend oor die voortgesette verwaarlosing en gebrekkige optrede deur die Tembisa-hospitaal in Gauteng se bestuur. Dit volg nadat ‘n brand Saterdag in die hospitaal se ongevalle- en noodeenheid uitgebreek het, gevolg deur nog ‘n brand vanoggend. Die vakbond se woordvoerder, Claude Naiker, sê hulle het aanhoudend kommer uitgespreek oor die toenemend vervalle infrastruktuur en onveilige werkstoestande by die hospitaal en gewaarsku dat dit op die rand van algehele ineenstorting is:
# Die Palestynse president, Mahmud Abbas, het Hamas aangemoedig om alle gyselaars vry te laat, en sê hulle gevangeskap gee Israel verskonings om die gebied aan te val. Minstens 18 mense is vandag in die Gaza-strook in Israelse aanvalle dood, terwyl Duitsland, Frankryk en Brittanje Israel aanmoedig om die versperring van humanitêre hulp te beëindig. Israel het sy militêre veldtog op 18 Maart hervat, wat di wapenstilstand beëindig het wat die vyandlikhede grootliks gestaak en gelei het tot die vrylating van 33 gyselaars uit Gaza. Israel het sowat een-duisend-800 Palestynse gevangenes vrygelaat.
# Netbal: Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee, die Departement van Sport, en Netbal SA sê hulle sal slegs optree as Netbal SA en Afrika Netbal se president, Cecilia Molokwane amptelik aangekla word deur Wêreldnetbal. Die internasionale liggaam het haar geskors oor beweerde wanadministrasie. Die adjunkminister van Sport, Peace Mabe, het aan die Parlement gesê dit sal onregverdig wees om Molokwane sonder behoorlike prosesse te skors. Sy sê interne ondersoeke moet enige verdere optrede bepaal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-62-sent teen die dollar, 21-rand-24-sent teen die euro en 24-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-120-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-303-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….