Nuus 17:00
BULLETIN 17 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SA Weerdiens waarsku teen gure weer aan die begin van Paasnaweek
# Freedom Under Law verwelkom die verwerping van Hlophe, MK-party se appèl oor RDK
# En Etzebeth, Am en Fassi is terug vir die Haaie se stryd teen Edinburgh
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n vlak twee-waarskuwing uitgereik oor swaar, ontwrigtende reën en donderbuie wat vandag oor KwaZulu-Natal en die oostelike helfte van die Oos-Kaap verwag word. Môre en Saterdag is daar ‘n 30-persent kans op reën in Gauteng, die Vrystaat en Noordwes. ‘n Voorspeller, Tokelo Chiloane, sê die nat weer kan oorstromings en reisvertragings veroorsaak terwyl mense voorberei vir die Paasnaweek:
# Die Wits-eetstaking-solidariteitskomitee het vandag na die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie in Johannesburg opgeruk om die registrasie van alle studente te eis, ongeag uitstaande skuld. Die betoging volg ná ‘n eetstaking van 12 dae, met studente wat Wits Universiteit beskuldig dat hulle arm swart studente ignoreer. Die komitee se woordvoerder, Feziwe Ndwayana, vra die kommissie om op te tree teen, wat hulle uitsluitingsbeleide noem, en om die reg op onderwys vir almal te handhaaf:
# Freedom Under Law verwelkom die Konstitusionele Hof se besluit om die MK-party en John Hlophe se appèl teen ‘n interdik wat hom verbied om in die Regterlike Dienskommissie te dien, met koste van die hand te wys. Die burgerlike organisasie sê omdat Hlophe voorheen verwyder is weens growwe wangedrag, is sy RDK-aanstelling ongrondwetlik. Die organisasie sê die uitspraak, gekoppel aan die Wes-Kaapse Hooggeregshof se tussentydse bevel, dui op ‘n oorwinning teen uitsteltaktieke.
# President Donald Trump van Amerika het die voorsitter van die Federale Reserwebank, Jerome Powell, gekritiseer omdat hy nie die rentekoerse verlaag nie, en gesê Powell is “altyd te laat en verkeerd”. Trump het op sy TruthSocial-platform geskryf dat Powell se ontslag nie gou genoeg kan kom nie. Die voorsitter van die sentrale bank het gister gewaarsku dat Trump se omvattende tariewe met feitlik elke handelsvennoot die Fed in die ongemaklike posisie kan plaas om te kies tussen die hantering van inflasie en werkloosheid.
# Rugby: Eben Etzebeth sal môreaand die Haaie in hul Verenigde Rugbykampioenskap-stryd teen Edinburgh in Skotland lei. Dit is die eerste keer in ses maande wat hoofafrigter John Plumtree sy sterkste span kon kies, en dit is ’n groot pluspunt vir die span dat Lukhanyo Am en Aphelele Fassi terug is in die opdrafspan, met Grant Williams op die reserwebank. Die Haaie speel teen ’n Edinburgh-span wat ’n tuiswedstryd in die Uitdaagbeker-halfeindstryd verseker het nadat hulle die Bulle in laas week se kwarteindronde verslaan het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-79-sent teen die dollar, 21-rand-35-sent teen die euro en 24-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-571-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-328-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….