Nuus 17:00
BULLETIN 7 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Feroz Khan het na bewering gehelp om parlementêre vrae vir Julius Malema op te stel
# Gesondheidsorgstelsels is onder druk reg oor Suid-Afrika
# En,ontploffings beseer 18 mense in Damaskus tydens Emmanuel Macron se besoek
# Die Madlanga-kommissie het gehoor hoe die polisie-offisier Feroz Khan parlementêre vrae vir die EFF-leier Julius Malema opgestel het. Getuienisleier Michael Chaskalson sê Khan het dit deur die sakeman Mohammed Sayed gestuur, met die doel om die geloofwaardigheid van die voormalige inspekteur-generaal van Inligting, Setlhomamaru Dintwe, te betwis. Vrae was ook gemik op die oudminister van Polisie, Bheki Cele, oor skakels met die veroordeelde dwelmhandelaar Timmy Marimuthu. Chaskelson het die vrae voorgelees:
# Die Stad Kaapstad sê sy begroting vir ekonomiese groei van 868-miljoen-rand vir die 2026/2027-boekjaar sal programme ondersteun wat gemik is om beleggings te lok, besighede te laat groei en werksgeleenthede te skep. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê die befondsing sal ook gebruik word om toerisme te bevorder, entrepreneurs te ondersteun, vaardigheidsontwikkeling te verbeter, burokrasie te verminder en Kaapstad se posisie as ‘n toonaangewende beleggingsbestemming te versterk:
# Die Raad van Gesondheidsorgbefondsers sê gesondheidsorgstelsels reg oor Suider-Afrika is onder ongekende druk. Hy sê dit word veroorsaak deur kleiner begrotings, ernstige personeeltekorte en die toenemende las van siektes. Volgens die Spesiale Ondersoekeenheid gaan sowat 15-persent van gesondheidsorg se besteding verlore deur bedrog, vermorsing en misbruik wat die sektor byna 30-miljard-rand kos. ‘n Woordvoerder van die raad, Leonard Lekgetho, sê algemene misbruik sluit onregmatige verkryging, vervalste medisyne, prysvasstelling en bedrieglike fakture deur onder meer duplikaat eise in:
# Agtien mense is beseer toe ploftoestelle in Damaskus ontplof het naby die hotel waar die Franse president, Emmanuel Macron, tydens sy besoek aan die Siriese hoofstad tuisgaan. Die staatsnuusagentskap Sana berig twee toestelle wat deur veiligheidsmagte opgespoor is, het ontplof toe spesialis-eenhede dit begin ontlont hett. Macron het gisteraand in Sirië aangekom as die eerste leier van die Europese Unie om die land te besoek sedert al-Sharaa in 2024 aan bewind gekom het. Die besoek beklemtoon Sirië se terugkeer na die wêreldverhoog ná jare van internasionale afsondering.
# Krieket: Engeland het sy span onveranderd gelaat vir vandag se derde T20 teen Indië op Trent Bridge. Die openingswedstryd in Chester-le-Street het uitgereën, en die gashere het Saterdag se tweede kragmeting op Old Trafford met vier paaltjies gewen na Jacob Bethel se onoorwonne 76 van slegs 64 balle. Dit beteken die Indiese wonderkind Vaibhav Sooryavanshi se internasionae loopbaan het met ‘n nederlaag begin. Hy kon slegs 14 lopies aanteken. Die voorlaaste wedstryd word Donderdag in Bristol beslis en die laaste een Saterdag in Southampton.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-25-sent teen die dollar, 18-rand-57-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-422-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-167-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 72-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….