Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Inwoners van Gaza is drie weke gegun om te ontruim voor die grondoperasies
# Israel beskryf Suid-Afrika se oproep om onmiddellike militêre opskorting in Gaza, as verbysterend
# En, Fases 3- en 4-beurtkrag dié naweek
# Israel verwerp in geen onsekere taal nie, Suid-Afrika se bewering dat hy Palestynse burgerlikes net 24 uur gegee het om Gaza te ontruim. Israel hou vol by die Internasionale Geregshof in Den Haag in Nederland dat die Israelse Weermag drie weke kennis gegee het en dring aan Suid-Afrika is óf verkeerd ingelig óf versprei doelbewus ‘n vals weergawe. Die regsverteenwoordiger van Israel, Omri Sender, sê 109 voedseltrokke gaan Gaza daagliks binne as deel van Israel se humanitêre pogings:
Die regsverteenwoordiger van Israel, Christopher Staker, sê Suid-Afrika se voorgestelde voorlopige maatreëls is daarop gemik om Israel se militêre optrede geheel en al tot stilstand te bring en verontagsaam die regsvereiste om die regte van albei partye te beskerm. Die saak by die Internasionale Geregshof is verlede maand aanhangig gemaak en oorweeg Suid-Afrika se beskuldigings van dade van volksmoord deur Israel teen Palestyne die afgelope 76 jaar. Staker waarsku, Israel kan nie sy inval in Gaza opskort nie aangesien dit Hamas sal bemagtig en tot verdere vergrype sal lei:
# Eskom het bekendgemaak beurtkrag is vanaf vier-uur vanmiddag verhoog tot fases 3 en 4. Die besluit word toegeskryf aan die afsluiting van ses opwekkingseenhede en vertraging om drie opwekkingseenhede weer in diens te stel. Aubrey Sambo van Eskom verseker die publiek hulle hou die kragstelsel fyn dop en sal enige veranderinge onverwyld oordra:
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê toegang tot mededingende internasionale ontwikkelingsfinansiering vir ontwikkelende lande is noodsaaklik om ʼn suksesvolle groen-oordrag te verseker. Die minister lei volgende week Suid-Afrika se afvaardiging na die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos, Switserland. Godongwana sê die regering sal ook gepaste mededingende finansiering ter tafel lê vir groen transaksies, en die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte in internasionale finansiële instellings, en belangrike globale ekonomiese platforms soos die Groep van 20.
# Rugby: Die voormalige kaptein van Engeland, Will Carling, is besorg omdat dit skynbaar nie meer die grootste droom vir spelers is om vir hulle land te speel nie. Hy het gereageer op Owen Farrell wat klaarblyklik na Racing 92 gaan verhuis, terwyl ander spelers in Engeland se Wêreldbeker-groep ook kontrakte in Frankryk aangegaan het, meesal oor die vergoeding. Dit beteken hulle mag nie meer vir Engeland speel nie. Volgens Carling moet Engeland se rugby ernstige vrae aan homself stel, terwyl hoofafrigter Steve Borthwick reeds gevra het daar moet herbesin word oor die beleid oor verkiesbaarheid.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-66-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 45-duisend-834-dollar-55-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-46-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….