Nuus 17:00
BULLETIN 15 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Statistieke Suid-Afrika sê mynbouproduksie het in Februarie met 9,6-persent gedaal
# ‘n Graad 4-leerder sterf in ‘n skool in Limpopo nadat sy ‘n pendoppie insluk
# En motorsport: Saudi-Arabië kan dit oorreed om ‘n Formule Een-span te koop
# Statistieke Suid-Afrika sê mynbouproduksie het in Februarie met 9,6-persent gedaal in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar. Die grootste negatiewe bydraes was platinumgroepmetale, ystererts, goud en steenkool. Mineraalverkope het ook skerp gedaal, met ’n jaar-tot-jaar afname van 13-persent. Juan-Pierre Terblanche van SSA sê slegs steenkool, wat met vyf-persent gegroei het, het positiewe groei getoon:
# ‘n Graad 4-leerder aan die Moriting Primary School in Limpopo is dood nadat sy per ongeluk ‘n pendoppie ingesluk het. Volgens die woordvoerder van die Onderwysdepartement, Matome Taueatsoala, is die leerder hospitaal toe gehaas nadat sy asemhalingsprobleme ondervind het, maar mediese personeel kon haar nie red nie. Hy sê die departement het ondersteuningsdienste aan die gesin en die skool beskikbaar gestel:
Die United Democratic Women’s Organisation is intussen geskok oor die beweerde seksuele aanranding van ’n Graad 3-leerder by Braamfischerville Primary in Johannesburg. Dit volg nadat die Gautengse Onderwysdepartement bande met die leesprogram Nal’iBali verbreek het nadat ‘n kind vermoedelik seksueel aangerand is deur een van die organisasie se personeellede. Sekretaris-generaal Thandi Nontenja eis dringende ondersoeke, strenger keuring en beradingsondersteuning om te verseker dat skole veilig is vir alle kinders:
# Die Chinese president, Xi Jinping, het Viëtnam aangemoedig om kragte saam te snoer en vrye handel te handhaaf. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het vroeër gesê Xi se besoek aan Hanoï is daarop gemik om Amerika te benadeel. Xi besoek Viëtnam as deel van sy Suidoos-Asiese toer wat Maleisië en Kambodja insluit. Beijing probeer ‘n bestendige alternatief vir Trump te wees, terwyl leiers die Amerikaanse tariewe trotseer. Xi het sy land en Viëtnam gevra om eensydige afknouery teen te staan en die bestendigheid van die wêreldwye vryehandelstelsel te handhaaf.
# Motorsport: Saoedi-Arabië glo dat die eienaarskap van ’n Formule Een-span die volgende stap kan wees ná die aanbied van ’n Grand Prix en om die sport te borg. Die voorsitter van Saoedi-Arabië se Motor- en Motorfietsfederasie, prins Khalid Al-Faisal, het voor die komende naweek se wedren in Jedda gesê dat daar beslis belangstelling is. Die koninkryk het sy eerste wedren in 2021 aangebied en sy Openbare Beleggingsfonds het dieselfde jaar in McLaren belê. F-1 ondervind ‘n oplewing in belangstelling in die Midde-Ooste, veral van jonger vroulike ondersteuners.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-87-sent teen die dollar, 21-rand-35-sent teen die euro en 24-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-737-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-222-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….