Nuus 17:00
BULLETIN 11 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Hlabisa dring aan spaza-winkels wat nie voldoen aan reëls nie, moet gesluit bly
# Amerikaanse en Russiese amptenare beraadslaag oor Oekraïne
# En rugby: Wiese se langtermyn nekbesering kan die deur oopmaak vir Roos en Hanekom
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê spaza-winkels wat nie aan reëls voldoen nie, moet gesluit bly. Hlabisa het by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Gauteng gepraat, waar ‘n agt-jarige steeds in die waakeenheid is weens besmette versnaperinge. Die minister het gesê die owerhede wag op die laboratorium se uitslae van die peuselhappie en beklemtoon gesamentlike verantwoordelikheid om soortgelyke voorvalle te voorkom. Hy loof die Stad Johannesburg omdat die betrokke winkel gesluit is:
# Die vakbond Giwusa sê die regering se belofte van drie-miljard-rand om gesondheidsorg te verbeter is heeltemal te min om enige verskil te maak. Die vakbond verwelkom enige belegging, maar sê die bedrag is nie genoeg om kritieke personeeltekorte, gebroke hospitale en onderbefondsde dienste reg te stel nie. Die president van die vakbond, Mametlwe Sebei, waarsku dat besuinigingsmaatreëls en winsgedrewe gesondheidsorg groot bedreigings is vir die welslae van die Nasionale Gesondheidsversekering:
# Die Oos-Kaapse polisie stel ondersoek in na die ontvoering van ‘n Amerikaanse sendeling, pastoor Josh Sullivan, wat ontvoer is terwyl hy gepreek het in die Fellowship Baptist Church in Motherwell in Gqeberha. Vier gewapende mans het glo die kerk binnegegaan, Sullivan met ‘n vuurwapen aangehou en toe met hom op die vlug geslaan. Sy motor is later verlate gevind. Polisiewoordvoerder Nobuntu Gantana vermoed die motief hou verband met ‘n losprys terwyl die land steeds ‘n oplewing in ontvoerings ondervind.
# Die Amerikaanse gesant, Steve Witkoff, het met Rusland se voorste ekonomiese onderhandelaar, Kirill Dmitriev, in St Petersburg vergader. Die Amerikaanse president, Donald Trump, plaas druk op Moskou en Oekraïne om gevegte na meer as drie-jaar te beëindig, maar is woedend vir presidente Vladimir Putin en Volodimir Zelensky oor die gebrek aan vordering. Beeldmateriaal van Rusland se staatsnuusagentskap toon Witkoff en Dmitriev wat saam ‘n hotel in St Petersburg verlaat. Die Kremlin sê Putin sal ook in die stad wees, maar nie gesê of hy Witkoff sal ontmoet nie.
# Rugby: Evan Roos en Cameron Hanekom word beskou as Jasper Wiese se natuurlike opvolgers na die nuus dat ’n nekbesering die Springbok-losvoorspeler vir die res van die seisoen buite aksie sal hou. Wiese het van sy klub in Japan teruggekeer en sal ’n operasie in Suid-Afrika ondergaan. Sy besering maak die deur oop vir Roos en Hanekom om ‘n vaste plek in die Bok-span te kry. Afrigter Rassie Erasmus het ook spelers soos Francke Horn, Phepsi Buthelezi en Celimpilo Gumede om in ag te neem om die nommer agt trui te dra.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-18-sent teen die dollar, 21-rand-89-sent teen die euro en 25-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-883-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-229-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….