Nuus 17:00
BULLETIN 10 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA dien ‘n PAIA-aansoek in om redes te bepaal vir die lughawens-krisis
# ‘n Rekordaantal van 351 medalje-items word goedgekeur vir 2028 se Olimpiese Spele in Los Angeles
# En Universal se eerste temapark in Europa gaan in Engeland gebou word
# Die DA sê hy het twee aansoeke ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting by die Departement van Vervoer en die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika ingedien, om deursigtigheid en aanspreeklikheid vir die krisis by lughawens te verseker. Lughawens in Suid-Afrika worstel tans met verskeie kwessies, insluitend ingewortelde mislukkings in lugverkeersveiligheid, gebrekkige infrastruktuur, wanbestuur en brandstofvoorsieningskwessies. Die DA sê die minister van Vervoer, Barbara Creecy, en ACSA bly egter stil en vermy hulle verantwoordelikheid om aanspreeklik en deursigtig te wees.
# Die Minerale Raad van Suid-Afrika fokus op transformasie, nakoming en prestasiegroei in die mynbousektor. Uitvoerende hoof, Mzila Mthenjane, het die belangrikheid van die komende Wysigingswetsontwerp op Minerale en Petroleumhulpbronne-ontwikkeling beklemtoon om belegging in die verkenning van mynbou en mynontwikkeling aan te moedig. Hy het vordering, ondanks uitdagings soos elektrisiteitskoste en reguleringsvertragings, beklemtoon. Mthenjane sê gesprekke duur voort oor pogings om gemeenskappe te bemagtig, werkgeleenthede te skep en transformasie-doelwitte deur die Mynhandves te bereik. Hy het gesê dit weerspieël beduidende vordering in die bedryf se ontwikkeling en maatskaplik-ekonomiese uitwerking.
# Die burgerlike gemeenskap, onder leiding van Women for Change, dring daarop aan dat president Cyril Ramaphosa geslagsgeweld en vrouemoord tot ’n nasionale ramp verklaar. Volgens Statistiek Suid-Afrika word meer as 50-persent van aanrandings teen vroue gepleeg deur iemand wat hulle ken, met intieme maats of eggenote wat vir minstens 15-persent van hierdie aanvalle verantwoordelik is. Lesego Mahlangu van Women for Change sê die burgerlike gemeenskap moet ophou om te vra vir aksie en eerder tot aksie oorgaan:
# Olimpiese Spele: Die Internasionale Olimpiese Komitee het ‘n rekordaantal 351 medalje-items vir 2028 se Olimpiese Spele in Los Angeles goedgekeur. Dit is 22 meer as in Parys verlede jaar en sluit die debuut van die 50-meter rugslag, borsslag en vlinderslag vir beide mans- en vroueswem in, asook ’n gemengde vier-maal-100-meter aflos op die baan. Die vroue-waterpolo-spanne word vermeerder van 10 na 12, gelykstaande aan die manskompetisie. Die IOK sê hierdie nuwe items weerspieël sy verbintenis tot geslagsgelykheid.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-40-sent teen die dollar, 21-rand-56-sent teen die euro en 25-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-645-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-127-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-6-sent per vat.
# En laastens, Universal Studios beplan om sy eerste temapark in Europa in Bedfordshire, Engeland, op te rig. Die park sal in 2031 sy hekke oopgooi as die grootste toeriste-aantreklikheid in Brittanje, en sal na verwagting in sy eerste jaar 8,5-miljoen besoekers lok. Universal het reeds temaparke in Orlando en Los Angeles in Amerika, asook in Japan, Singapoer en China. Brittanje se minister van Finansies, Rachel Reeves, sê ‘n voorstel sal aan die regering voorgelê word en bouwerk sal na verwagting volgende jaar begin:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….