Nuus 17:00
BULLETIN 9 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Simelane sê die ineenstorting van ‘n gebou in George was nalatig en vermybaar
# China slaan terug met tariewe van 84-persent op Amerikaanse goedere
# En sokker: Sundowns pak Al Ahley van Egipte in die halfeindronde van die Afrika-Kampioeneliga
# Die minister van Menslike Nedersettings, Thembi Simelane, sê die tragiese ineenstorting van ‘n gebou in George waarin 34 mense dood is, is deur nalatigheid veroorsaak en kon vermy word. Simelane het ‘n forensiese verslag voorgelê en onreëlmatighede in sertifisering, inspeksie, die aanstelling van tegniese personeel, boumateriaalgehalte en veiligheidsnakoming uitgelig. Sy sê die onderneming het ‘n wanvoorstelling van sy vermoëns ingedien tydens registrasie en daar is ernstige leemtes gevind in die waardeketting:
# Build One South Africa vra die Verkiesingshervormings-raadplegingspaneel om ‘n kiesafdelingsgebaseerde kiesstelsel aan te neem en vra die president moet regstreeks verkies word in 2029 se verkiesing. Die party het op ‘n tweedaagse konferensie in Johannesburg sy voorstel herhaal vir ‘n gemengde kiesafdelingsgebaseerde stelsel met oop kandidaatlyste en vasgestelde grense, om regstreekse aanspreeklikheid tussen kiesers en amptenare te verseker. Roger Solomons van BOSA vra formele koalisie-ooreenkomste om bestendigheid en aanspreeklikheid in die regering te bevorder.
# China het teruggeslaan met ‘n tarief van 84-persent op Amerikaanse invoere nadat Donald Trump se tarief van 104-persent op China in werking getree het. Dit het ‘n verdere daling in die Europese markte veroorsaak. Die FTSE 100-indeks van die grootste maatskappye wat in Brittanje genoteer is, het tot dusver vandag met 3,3-persent gedaal, terwyl die Duitse DAX sowel as die Franse CAC 40 vier-persent laer is. Die prys van Brent-ruolie het intussen in ‘n stadium tot onder 60-dollar per vat gedaal, die laagste sedert Februarie 2021.
# Sokker: Aanhangers maak gereed vir ‘n opwindende halfeindstryd in die Afrika-Kampioeneliga nadat Mamelodi Sundowns die Tunisiese span Espérance beperk het tot ‘n doellose gelykopstryd in Rades. ‘n Reuse-stryd lê nou voor teen die verdedigende kampioen, Al Ahly van Egipte. Sundowns se oorwinning van 1-0 in die eerste ronde in Tshwane was genoeg om hulle die derde agtereenvolgende jaar ‘n plek in die halfeindronde te besorg. Intussen pak die Egiptiese span Pyramids die wenner van vandag se wedstryd tussen Orlando Pirates en Mouloudia Alger. Pirates is 1-0 voor.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-76-sent teen die dollar, 21-rand-88-sent teen die euro en 25-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-929-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-59-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 60-dollar-8-sent per vat.
# En laastens, ‘n groot aantal lewensgrootte dierepoppe wat van herwinde materiale gemaak is, gaan ‘n reis van 20-duisend-kilometer van Kinshasa in die Demokratiese Republiek die Kongo na die Arktiese sirkel onderneem. Dit is om bewustheid oor natuurlewe en die bedreiging van aardverwarming te verhoog. Die produksie is ‘n vennootskap van die Ukwanda Puppets and Design Art Collective en die Sentrum vir Mensenavorsing aan die Universiteit van die Wes-Kaap. Die UWK sê al langs die roete gaan dierepoppe inheems aan die lande by die groep aansluit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….