Nuus 17:00
BULLETIN 8 April 5nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa versoek nasionale ondersteuning in misdaadbekamping
# ‘n Staatsgetuie word doodgeskiet in ‘n hof in Kaapstad
# En ‘n Amerikaanse ekonoom sê die Trump-administrasie het sy werk wanvertolk om tariewe te regverdig
# President Cyril Ramaphosa het Suid-Afrikaners versoek om die polisie te ondersteun in die stryd teen misdaad. Hy het op die polisieberaad in Kemptonpark beklemtoon misdaad raak die hele samelewing en ‘n gesamentlike poging word benodig om dit te kan hokslaan. Ramaphosa het ook erkenning gegee aan die uitdagings wat opkomende bedreigings soos transnasionale misdaad en onwettige mynbou inhou. Hy vra verbeterde openbare vertroue, beter verhoudings tussen die polisie en die gemeenskap en die slimmer gebruik van hulpbronne:
# ‘n Staatsgetuie is vanoggend doodgeskiet binne die Wynbergse Landdroshof in Kaapstad. Mediese personeel het die slagoffer op die toneel dood verklaar nadat hy verskeie keer geskiet is. Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek ‘n moordsaak en die motief agter die voorval.
# Die Wes-Kaapse handel- en beleggingsagentskap, Wesgro, het sy verbintenis aangekondig om plaaslike uitvoerders te ondersteun wat met die nuwe Amerikaanse tariewe te kampe het. Amerika het ‘n tarief van 31-persent op Suid-Afrikaanse goedere opgelê, wat sleuteluitvoere soos sitrus en wyn raak. Verlede jaar is agt-persent van die provinsie se uitvoere na Amerika, wat 16,2-miljard-rand beloop het. Wesgro het ‘n aanlyn bron bekendgestel om uitvoerders te help.
‘n Ekonoom wie se werk die Amerikaanse president, Donald Trump, se administrasie aangehaal het om tariewe te regverdig, sê intussen amptenare het die navorsing wanvertolk en die tariewe moes hoogstens ‘n kwart wees van wat die Withuis aangekondig het. Brent Neiman, wat onder oudpresident Joe Biden ‘n amptenaar van die Amerikaanse Tesourie was, het in 2021 help skryf aan ‘n referaat oor die uitwerking van tariewe op pryse. Dit is verlede week aangehaal in ‘n verklaring waarin die berekeninge verduidelik word agter die groot invoertariewe wat Trump aangekondig het.
# Sokker: Arsenal se hoofafrigter, Mikel Arteta, sê die wedstryd teen Real Madrid is een van die grootste uitdagings van sy loopbaan tot dusver. Die twee pak mekaar vanaand op die Emirates-stadion in Londen in die eerste wedstryd van hulle Kampioeneliga-kwarteindstryd, terwyl die tweede wedstryd volgende Dinsdag op die Bernabéu plaasvind. Real, wat die titel al 15-keer gewen het, is die verdedigende kampioen. Arteta sê sy spelers is reg vir hierdie groot kragmeting:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-36-sent teen die dollar, 21-rand-19-sent teen die euro en 24-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-119-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-21-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….