Nuus 17:00
BULLETIN 7 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ahmed Kathrada-stigting vra eenheid binne die regering
# Krieket: Harry Brook is Engeland se nuwe witbal-kaptein
# En klimaatsverandering bedreig internasionale toerisme-bestemmings
# Die Ahmed Kathrada-stigting het die regering van nasionale eenheid aangespoor om saam te werk vir ‘n gemeenskaplike visie vir Suid-Afrika se vooruitgang. Die stigting het ‘n erfenis-sake-ontbyt aangebied in Illovo, Gauteng, om ‘n platform te skep vir uitvoerende hoofde om sake, leierskap en vernuwing te bespreek ter ere van die ontslape anti-apartheidsaktivis se nalatenskap. Die stigting se uitvoerende hoof, Neeshan Balton, het die belangrikheid van verenigde leierskap beklemtoon:
# ActionSA het ministers veroordeel omdat hulle herhaaldelik parlementêre vrae ontduik, en oorweeg nou regstappe. Die party sê meer as 70-persent van sy 121 vrae wat vanjaar ingedien is, bly onbeantwoord, en sekere vrae word eenvoudig geïgnoreer. Die party beskuldig ministers, insluitend die minister van Landbou, John Steenhuisen, en die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton Mackenzie, van die ontduiking van kritieke navrae, veral oor buitensporige luukse reiskoste. Athol Trollip van ActionSA beweer ministers het binne ses maande byna 180-miljoen-rand aan reiskoste bestee.
# AfriForum beskuldig die SABC van die minagting van Afrikaanse kykers nadat die Afrikaanse TV-nuusbulletin nie Saterdagaand uitgesaai is nie. Hulle eis ‘n verduideliking by die openbare uitsaaier omdat geen rede vir die stap verskaf is nie. Alana Bailey van AfriForum waarsku die SABC se versuim om voorsiening te maak vir hierdie getroue en finansieel sterk gehoor kan sy beeld en inkomste benadeel:
# Krieket: Harry Brook is Engeland se nuwe witbal-kaptein. Die 26-jarige kolwer volg Jos Buttler op, wat uit die rol bedank het nadat die land nie die groepsfase van die Kampioenetrofee oorleef het nie. Besturende direkteur Rob Key sê Brook was al geruime tyd deel van hul opvolgingsbeplanning. Hy beskryf hom as ‘n uitsonderlike speler met ‘n uitstekende krieketbrein en ‘n duidelike visie vir albei spanne wat sal help om Engeland te lei na oorwinnings in meer reekse, Wêreldbekertoernooie en groot wêreldtoernooie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-42-sent teen die dollar, 21-rand-28-sent teen die euro en 24-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-996-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-27-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-3-sent per vat.
# En ten slotte: Klimaatsverandering is besig om toerisme te verander en bedreig bestemmings soos die Maldives en die Groot Koraalrif in Australië. Volgens die Verenigde Nasies kan stygende seevlakke die grootste deel van die Maldives teen 2100 onder water laat, terwyl oseane wat warmer word koraalriwwe beskadig. Die veranderings sal na verwagting natuurlike besienswaardighede en plaaslike ekonomieë ontwrig, met toerisme wat daaronder ly. Bestemmings belê voortdurend in groen praktyke om ekostelsels te beskerm en gemeenskappe te onderhou wat van toerisme afhanklik is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….