Nuus 17:00
BULLETIN 4 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum ondersteun die VSA-wetsontwerp wat ANC-leiers teiken en verwelkom ambassade se standpunt oor die ‘Kill the Boer’-kreet
# Die DA eis optrede oor 410 polisievuurwapens wat in die Oos-Kaap verlore of gesteel is
# En, die ACDP dring aan op verskoning van NVG na onskuldigbevindings in Omotoso-saak
# AfriForum sê hy ondersteun die denke agter ‘n Amerikaanse wetsontwerp wat sanksies voorstel teen korrupte ANC-leiers en menseregteskenders. Uitvoerende hoof, Kallie Kriel het kommer uitgespreek oor die wetsontwerp se breër doelwit om die verhoudings tussen die VSA en Suid-Afrika te hersien. Kriel sê verder AfriForum verwelkom die Amerikaanse ambassade se veroordeling van die “Kill the Boer”-kreet , en sê dit hits geweld aan en bevorder rassisme:
# Die DA in die Oos-Kaap het kommer uitgespreek nadat 410 polisievuurwapens oor ‘n tydperk van vier jaar as verlore of gesteel aangemeld is. Daar is 362 wapens wat bloot gesteel is, 65 wapens is uit polisiekantore gesteel en daar kan vir 48 nog nie rekenskap gegee word nie. Die DA-lid, Yusuf Cassim, sê die polisie benodig ‘n opsporingstelsel om wapens aan misdade te kan koppel. Hy eis dissiplinêre stappe en strenger vuurwapenbeheer:
# Die African Christian Democratic Party het sy teleurstelling uitgespreek oor die onskuldigbevindings van Timothy Omotoso sy mede-beskuldigdes in ‘n saak van seksuele aanranding en mensehandel. Die ACDP het die nasionale vervolgingsgesag gekritiseer oor die swak hantering van die saak, veral die onvoldoende kruis-ondervraging van die beskuldigdes. Die party vra dat die NVG die slagoffers en die getuies om verskoning moet vra, en het die regering aangemoedig om die regstelsel en aanklaer-opleiding te verbeter om beter uitslae in toekomstige sake te kry.
# ‘n 43-jarige Suid-Afrikaner van Sackets Harbor, New York, staar federale aanklagte in die gesig vir die verspreiding van kinderpornografie deur ‘n sosiale netwerk-toepassing. Marcell Meyer het na bewering eksplisiete inhoud, met onder meer ‘n agent wat haarself as ‘n 13-jarige meisie voorgedoen het, gedeel. As Meyer skuldig bevind word, kan hy tronkstraf van tussen vyf en 20 jaar, ‘n 4,7-miljoen-rand boete, en verpligte registrasie as seksoortreder opgelê word. Die saak, wat deel is van Project Safe Childhood, is ondersoek deur Binnelandse Veiligheid en ander agentskappe. Meyer het op ‘n plaas in die VSA gewerk.
# Rugby: Dit word ook nie makliker vir die Blitsbokke nie. Nadat hulle slegs in die negende plek in Hongkong geëindig het, speel hulle môreoggend in Singapoer, in die laaste toernooi van die gewone seisoen, teen sterk opposisie in Groep A. Die Suid-Afrikaners speel om 7:26 teen Brittanje en dan draf hulle 10:44 op die veld teen die reeks-voorlopers, Argentinië. Die Argentyne het verlede naweek, vir die eerste keer die Honkong-toernooi gewen. Die Blitsbokke is tans vierde op die punteleer, met die top agt spanne wat kwalifiseer vir die wêreldkampioenskap volgende maand in Los Angeles.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-99-sent teen die dollar, 20-rand-97-sent teen die euro en 24-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-917-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-84-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….