Nuus 17:00
BULLETIN 2 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Binnelandse Sake sê deportasies styg to bo 46-duisend in die 2024/25-boekjaar
# Die kommissie vir Geslagsgelykheid sê die Omotoso-uitspraak is ‘n terugslag vir die regsgemeenskap en slagoffers
# En ‘n All Black-stut kan die toetse teen Frankryk misloop weens ‘n nekbesering
# Die Departement van Binnelandse Sake het in die 2024/25-boekjaar 46-duisend-898 onwettige immigrante gedeporteer. Volgens die departement is dit ‘n toename van 18-persent teenoor die vorige jaar en meer as Frankryk en Duitsland saam. Minister Leon Schreiber sê die jongte syfers dui die hoogste uitsettingsgetalle vir die laaste vyf jaar aan en het die vorige vlakke verdriedubbel. Hy skryf dit toe aan strenger wetstoepassing en samewerking met wetstoepassingsagentskappe. Schreiber sê streng optrede, tesame met digitale hervormings op grense, versterk nasionale sekerheid.
# Die voorsitter van die kommissie vir Geslagsgelykheid, Nthabiseng Sepanya-Mogale, het die uitspraak in die saak teen die Nigeriese televisie-evangelis Timothy Omotoso gekritiseer en dit ‘n onaangename uitkoms vir die regsgemeenskap sowel as sy beweerde slagoffers genoem. Hy is na agt jaar onskuldig bevind aan onder meer verkragting en mensehandel. Sepanya-Mogale het teenoor Newzroom Afrika kommer uitgelig oor finansiële belegging in die regstelsel. Sy waarsku die uitspraak kan slagoffers ontmoedig om soortgelyke sake aan te meld, wat pogings teen geslagsgeweld kan belemmer:
# Die Departement van Landbou, Landelike Ontwikkeling en Omgewingsake in die Vrystaat doen ‘n beroep vir waaksaamheid namate die uitbreking van die Afrika-kommandowurm vererger. Meer as 70 gevalle is in Xhariep, Lejweleputswa en die Mangaung Metro aangeteken, met nuwe uitbrekings in Bultfontein, Hoopstad en Brandfort. Moliehi Moeng van die departement sê die owerhede versprei tans chemikalieë en spuite aan boere wat geraak is:
# Rugby: ‘n Nekbesering kan dalk die stut Ofa Tu’ungafasi uit die All Blacks se toetsreeks teen Frankryk hou. Hy sal ‘n operasie ondergaan en sal nie die res van die Super Rugby-seisoen vir die Blues beskikbaar wees nie. Die sukkelende verdedigende kampioen is tans tweede-laaste op die rangleer met slegs een oorwinning uit ses wedstryde. Die All Blacks speel op vyf Julie teen Frankryk in Dunedin, met die tweede toets in Wellington ‘n week later. Die laaste toets vind op 19 Julie in Hamilton plaas.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-62-sent teen die dollar, 20-rand-15-sent teen die euro en 24-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-850-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-126-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-99-sent per vat.
# En laastens, die Switserse horlosiemaker, Vacheron Constantin, se jongste skepping word beskryf as die ingewikkeldste polshorlosie wat nóg gemaak is. Die eenmalige ontwerp, Solaria, is van 18-karaat witgoud gemaak en bevat meer as 200 diamante. Dit bestaan uit een-duisend-521 afsonderlike onderdele terwyl ‘n gewone meganiese horlosie gemiddeld 130 het. Vacheron Constantin se styl- en erfenisdirekteur, Christian Selmoni, sê die horlosie het vyf funksies wat nog nooit voorheen in horlosies gebruik is nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….