Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Israel word daarvan beskuldig dat hy ‘n humanitêre krisis in Gaza ontketen het
# Galp (Ghulp) ontdek olie in Namibië
# En, rugby: Andy Farrell aangewys as die nuwe hoofafrigter van die Britse en Ierse Leeus
# ‘n Regsgeleerde wat Suid-Afrika verteenwoordig, Blinne Ni Ghralaigh, het in ʼn pleidooi by die Internasionale Geregshof, in Den Haag in Nederland, gevra vir dringende maatreëls om die Palestyne in Gaza te beskerm teen die beweerde oortreding van die Volksmoordkonvensie. Meer as 23-duisend Palestyne is dood en meer as 59-duisend gewond in die Israel-Palestynse konflik. Sy beskryf die situasie as ʼn humanitêre krisis en ʼn lewende hel, en waarsku oor ʼn dreigende gesondheidsorgramp in Gaza met aansteeklike siektes wat versprei:
# Die Stad Kaapstad vra ‘n duidelike aanvangsdatum vir privaat sektor-betrokkenheid in Kaapstad-hawe. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê ‘n privaat sektor-vennoot begin in April by die Durban-hawe werk, maar daar is voortslepende stilte van die nasionale regering oor ‘n hupstoot vir die Kaapstad-tydlyn deur samewerking met ‘n privaat sektor-vennoot. Hy sê die deelname van die privaat sektor in die Kaapstad-hawe het die potensiaal om ‘n bykomende ses-miljard-rand deur middel van uitvoere by te dra:
# Die Portugese multinasionale energiekorporasie, Galp Energia, het die eerste verkenningsput vir olie, Mopane-1-X, aan die kus van Namibië suksesvol geboor en aangeteken. Aanvanklike bevindings bevestig ‘n aansienlike hoeveelheid hoë gehalte ligte olie in reservoir-draende sand. NamCor se woordvoerder, Paulo Coelho, het bevestig planne vorder om dieper teikens te verken, met planne om die tuig na Mopane-2-X te verskuif vir verdere assessering. Coelho sê Galp gaan data ontleed wat ingewin is en ‘n boorpyptoets uitvoer om die kommersiële lewensvatbaarheid van die ontdekking te bepaal:
# Rugby: Ierland se afrigter, Andy Farrell, is aangewys as die hoofbreier van die Britse en Ierse Leeus vir volgende jaar se toer na Australië. Die Engelsman, die pa van die Engelse kaptein, Owen Farrell, volg die Nieu-Seelander Warren Gatland op wat na die Leeu-toer in Suid-Afrika in 2021 uitgetree het. Farrell was Gatland se hulpafrigter tydens die Leeu-toer in 2013 en weer vier jaar later. Sy rol by die span begin in Desember vanjaar. Farrell sal die Leeus vir 10 wedstryde voorberei, insluitend ʼn toets teen Argentinië in Dublin en drie toetse teen die Wallabies.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-59-sent teen die dollar, 20-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 47-duisend-355-dollar-36-sent. Die prys van goud is twee-duisend-33-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-24-sent per vat.
# En laastens: Die Re.Bag.Re.Use-projekspan sê hy is geïnspireer om voort te gaan om ‘n verskil te maak. Die projek het onlangs sy tweede internasionale toekenning ontvang, en het die Silwer Stevie-toekenning in die Vroue in Sake-kategorie gewen: Startup of the Year – Consumer Products Industries. Vyftien vroue is betrokke by Re.Bag.Re.Use; vyf om leë plastiekbroodsakkies in repe te sny en tien wat dan hierdie repe in pragtige multifunksionele items verander. Die stigter, Regine le Roux, sê die internasionale erkenning is ‘n duidelike teken hulle beweeg in die regte rigting.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….