Nuus 17:00
BULLETIN 31 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Onderwysaktivis vra vinnige geregtigheid vir ‘n sewejarige meisie wat by ‘n skool in die Oos-Kaap verkrag is
# Kaapstad begin met ‘n sterk beleggings- en toerismeveldtog in Indië
# En gholf: Die sterkste plaaslike en internasionale spelers vergader vir die Joburg Vroue-ope
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta vra blitsige optrede deur wetstoepassing om geregtigheid te laat geskied vir die sewejarige meisie wat in die Bergview-kollege in die Oos-Kaap verkrag is, net bekend as Cwecwe. Makaneta het die ingewortelde sekerheidsmislukkings verdoem, en die Departement van Justisie en Oos-Kaapse onderwys-amptenare gevra om die saak voorrang te gee. Hy het die gesamentlike verantwoordelikheid beklemtoon om kinders te beskerm en ‘n veiliger, regverdiger samelewing te skep:
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, het 1,4-miljard-rand aan ramphulpfondse toegewys om vyf provinsies te help wat onlangs deur rampe getref is. Die geld sal aangewend word om infrastruktuur en basiese dienste te herstel in die Oos-Kaap, Limpopo, Mpumalanga, die Vrystaat en KwaZulu-Natal, en plaaslike ekonomieë te help. Hlabisa het op ‘n nuuskonferensie gesê die geld sal ook help om skole, klinieke en paaie te herstel en herstelpogings in die betrokke gemeenskappe ‘n hupstoot te gee:
# Die Stad Kaapstad het amptelik sy ambisieuse plekbemarkings-, toerisme- en beleggingsveldtog in Indië van stapel gestuur. Die stad se doelwit is om nuwe sakegeleenthede te verseker, toerisme te bevorder en werkskepping aan te moedig deur bande te versterk met een van die wêreld se ekonomieë wat die vinnigste groei. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê hierdie veldtog het ten doel om Kaapstad die ideale poort in Afrika te maak vir belegging en toerisme:
# ‘n Franse hof het die verregse leier, Marine le Pen, vir vyf jaar verban uit openbare ampte, wat haar verhoed om in 2027 aan die presidentsverkiesing deel te neem. Sy is ook gevonnis tot vier jaar tronkstraf, wat met ‘n elektroniese toestel uitgedien moet word. Die 65-jarige Le Pen en agt ander lede van haar National Rally-party is skuldig bevind omdat hulle voordeel getrek het uit uitgawes van die Europese Parlement om assistente in diens te neem wat eintlik vir die party gewerk het.
# Gholf: Johannesburg gaan hierdie week die beste plaaslike en internasionale spelers by die Joburg Vroue-ope verwelkom. Die toernooi, wat gesamentlik deur die Sonskyn-vrouetoer en die Europese Vrouetoer onderskryf word, sal van Donderdag op die Modderfonteinse klub gespeel word. Al tien spelers op die plaaslike merietelys, insluitend nommer een, Casandra Alexander, sowel as sewe van die voorste spelers van die Europese Toer sal deelneem. Die verdedigende kampioen, Chiara Tumburlini van Switserland, sal ook daar wees. Die prysgeld is vanjaar 5,9-miljoen-rand.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 23-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-727-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-122-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….