Nuus 17:00
BULLETIN 28 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die dreunsang ‘Kill the Boer’ is nie meer van toepassing nie
# Die Voertuig-sakeraad evalueer die invloed van Amerikaanse tariewe op Suid-Afrikaanse uitvoere
# En ‘n kragtige aardbewing tref Mianmar en Thailand
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die dreunsang “Kill the Boer, Kill the Farmer”, is nie meer van toepassing op die party se doelwitte nie, alhoewel die Konstitusionele Hof dit nie onwettig geag het nie. Hy het tydens ‘n onderhoud by die vergadering van die party se nasionale uitvoerende komitee in Boksburg, Gauteng, verduidelik die dreunsang is gewortel in weerstand tydens die apartheid-era en was wel deel van die stryd, maar het geen plek in ‘n demokratiese Suid-Afrika nie:
# Die Voertuig-sakeraad evalueer die potensiële uitwerking van die tarief van 25-persent wat ingestel is op voertuie en voertuigonderdele wat deur die VSA ingevoer word. Suid-Afrika trek voordeel uit aksyns-vrye toegang ingevolge die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika. Die raad praat tans met belanghebbendes om te bepaal of hierdie voorkeure beïnvloed word. Die VSA was Suid-Afrika se derde-grootste voertuiguitvoermark in 2023, wat 28-miljard-rand beloop het.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê onreëlmatige uitgawes, swak bestuur en ‘n gebrek aan toesig het voortdurende terugslae in die digitale migrasieprojek van analoog-TV veroorsaak. Die organisasie vra ‘n dringende ondersoek na die projek in ‘n verslag wat aan die Parlement voorgelê is. Andrea van Heerden van OUTA sê doeltreffende gevolgbestuur is noodsaaklik om te verseker kwesbare huishoudings ontvang ondersteuning en dat digitale migrasie doeltreffend afgehandel word:
# ‘n Kragtige aardbewing het vroeër vandag ‘n groot hospitaal in die hoofstad van Mianmar in ‘n reuse ongevalle-gebied verander met minstens drie mense wat dood is. Talle is ook vasgekeer in die naburige Thailand nadat ‘n wolkekrabber ingetuimel het. Die skudding van 7.7 het die gebied noordwes van die stad Sagaing, in sentraal Mianmar, getref en is minute later gevolg deur ‘n naskok van 6.4 waartydens geboue ingetuimel, paaie meegegee en die bekende Ava-brug ingestort het. Die verwoesting het gelei tot ‘n seldsame versoek vir internasionale hulp deur die geïsoleerde militêre junta in Mianmar.
# Sokker: Real Madrid se legendariese afrigter, Carlo Ancelotti, sal volgende week in die hof verskyn nadat hy na bewering nie inkomste aan Spanje se belastingkantoor verklaar het nie. Aanklaers vra gevangenisstraf van vier jaar en nege maande vir die 65-jarige Italianer, en beskuldig hom daarvan dat hy Spanje se tesourie meer as 19,5-miljoen rand in 2014 en ’15 gekos het vir inkomste wat hy nie verklaar het nie. Die saak, wat Woensdag begin, sal na verwagting twee dae duur. Ancelotti, wat as afrigter ‘n rekord vyf Kampioenliga-trofees gewen het, moet teenwoordig wees vir die verhoor.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-60-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-457-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-73-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….