Nuus 17:00
BULLETIN 27 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Konstitusionele Hof wys AfriForum se appèl-aansoek teen ‘Kill the Boer’ van die hand
# Namibië gaan op 1 April visumvrye toegang vir meer as 30 lande terugtrek
# En tennis: Eala word die eerste vrou van die Filippyne onder die wêreld se top-100
# Die Konstitusionele Hof het AfriForum se aansoek om verlof tot appèl teen twee hofbeslissings oor die dreunsang Kill the Boer van die hand gewys. Voorheen is bevind dis nie haatspraak nie. Die hoogste hof sê die appèlaansoek het geen redelike vooruitsigte op sukses nie. AfriForum het die saak teen die EFF, sy leier, Julius Malema, en die voormalige EFF-LP Mbuyiseni Ndlozi aanhangig gemaak.
# President Cyril Ramaphosa sê watersekerheid in Suid-Afrika word bedreig as gevolg van die groeiende aanvraag, klimaatsverandering en verouderde infrastruktuur. Ramaphosa het in sy hoofrede tydens die Nasionale Water- en Sanitasie-indaba in Midrand, Gauteng, gesê die Wêreldhulpbroninstituut voorspel Afrika suid van die Sahara sal teen 2050 die grootste styging in wateraanvraag ervaar, met Suid-Afrika wat meer as 80-persent van sy water vir huishoudelike behoeftes gebruik:
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het ‘n infrastruktuurbelegging van 39,7-miljard-rand oor drie jaar aangekondig met die voorlegging van die metro se begroting vir 2025/’26. Hill-Lewis sê die begroting bring hoop. Hy sê groot hervormings aan die tariefstruktuur sal verdere beduidende verligting vir laerinkomste-huishoudings meebring, met ‘n elektrisiteitsprysverhoging van slegs twee-persent vergeleke met Eskom se nasionale verhoging van 11,32-persent vir munisipaliteite:
# Namibië gaan op 1 April visumvrye toegang vir meer as 30 lande terugtrek, insluitend Amerika en Brittanje. Audrin Mathe van die Ministerie van Inligting het aan Newzroom Afrika gesê die besluit, wat reeds in Julie 2023 geneem is, volg omdat Namibiese paspoorthouers nie dieselfde voorregte in die buiteland het nie. Hy het ook aangedui dat 18 lande, insluitend Suid-Afrika, Botswana, Angola en Zimbabwe, nie deur die veranderings geraak sal word nie:
# Tennis: Die 19-jarige Alexandra Eala sal die eerste vrou van die Filippyne onder die wêreld se top-100 word na haar briljante vertoning in die Miami Ope in die VSA. Sy het die wêreld-nommer-twee, Iga Swiatek van Pole, in die kwarteindronde verslaan na oorwinnings oor 2017 se Franse Ope-kampioen, Jelena Ostapenko van Letland, en die Australiese Ope-kampioen, Madison Keys van Amerika. Eala het slegs die tweede promotorskeuse geword om drie Grand Slam-wenners in ‘n toervlak-toernooi te verslaan. Sy speel volgende teen die vierde-gekeurde Amerikaner Jessica Pegula.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-29-sent teen die dollar, 19-rand-72-sent teen die euro en 23-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-251-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-40-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….