Nuus 17:00
BULLETIN 26 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Meer as 40 politieke partye appelleer teen die OVK se kennisgewing oor deregistrasie
# Popcru kritiseer OPOD oor die ondermyning van die polisie te midde van ‘n oplewing in geweldsmisdaad in KwaZulu-Natal
# En rugby: Easterby en Wigglesworth word aangestel as hulpafrigters van die Britse en Ierse Leeus
# Die Verkiesingskommissie het meer as 40 voorleggings van politieke partye ontvang na sy kennisgewing rakende die kansellasie van 192 onaktiewe partye. Hierdie partye het versuim om teen die sperdatum van 31 Januarie hul registrasies te hernu en word nie in enige wetgewende instelling verteenwoordig nie. David Mandaha van die OVK sê hul doelwit is om die partyregister op datum te hou, onaktiewe partye te verwyder om kiesersverwarring te verminder en aktiewe partye toe te laat om ongebruikte name en handelsmerke te gebruik:
# Die polisievakbond Popcru sê hulle stem nie saam met die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat se kommer oor onlangse dodelike skietvoorvalle waarby die polisie in KwaZulu-Natal betrokke was nie. Nthabeleng Molefe van Popcru vra die polisiewaghond om te verseker hulle optrede belemmer nie pro-aktiewe wetstoepassing nie en om eerder die beamptes van die nodige hulpbronne en regsondersteuning te voorsien:
# Die minister van Minerale en Petroleum Hulpbronne, Gwede Mantashe, sê ‘n ministeriële taakspan is aangewys om dringend ʼn herlewingsplan vir die smelterysektor te ontwikkel en sy langtermyn-volhoubaarheid te verseker. Suid-Afrika het geïnstalleerde smeltingsvermoë vir net meer as vyf-miljoen ton ferrochroom, maar minder as drie-miljoen ton kan tans verwerk word. Mantashe sê die vraag na yster-allooie wat van beide minerale vervaardig word, sal na verwagting styg weens groen tegnologieë soos batterye, maar ook uit tradisionele sektore soos die boubedryf.
# Rugby: Die Britse en Ierse Leeus het Simon Easterby en Richard Wigglesworth as hulpafrigters aangestel onder hoofafrigter Andy Farrell vir die komende toer na Australië. Easterby was Ierland se tussentydse afrigter gedurende die onlangse Sesnasies-toernooi en het vier oorwinnings behaal en een wedstryd verloor. Die kampioen van die vorige twee seisoene het derde geëindig. Wigglesworth, ‘n voormalige Engelse skrumskakel, het in 2022 die huidige Engelse hoofafrigter, Steve Borthwick, as Leicester se afrigter opgevolg. Hy het in Oktober 2024 by Borthwick aangesluit as Engeland se senior hulpafrigter.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-27-sent teen die dollar, 19-rand-68-sent teen die euro en 23-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-589-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-22-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-8-sent per vat.
# En laastens, Indië het Suid-Afrika se skenking verwelkom van geskiedkundige kunswerke wat aan die maatskaplike aktivis en wêreldleier Mahatma Gandhi behoort het. Die items van beduidende geskiedkundige en kulturele waarde sal nou in Indië se Nasionale Gandhi-museum uitgestal word. Amptenare van albei lande het die skenking beskryf as ‘n huldeblyk aan Gandhi se blywende nalatenskap en toewyding tot vrede en geregtigheid. Hulle sê die gebaar sal die geskiedkundige bande tussen die twee nasies versterk nadat Gandhi meer as twee dekades in Suid-Afrika deurgebring het en sy filosofie van geweldloosheid hier gevorm het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….