Nuus 17:00
BULLETIN 3 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Khumbudzo Ntshavheni sê Suid-Afrika is nie verantwoordelik vir die repatriasie van buitelandse burgers nie
# ‘n Oekraïense vrou wat as ‘n man vermom is, is die hoofverdagte in ‘n bomaanval in Monaco
# En fietsry: Die viermalige Tour de France-wenner, Chris Froome, tree uit
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê Suid-Afrika het geen wetlike verpligting om buitelandse burgers te repatrieer nie en beklemtoon die verantwoordelikheid berus by hul geboortelande. Ntshavheni sê die regering se rol is om buurlande te ondersteun wanneer hulp gevra word. Ntshavheni het verwys na Mosambiek se gesamentlike repatriasiepogings en sê bystand aan Malawi is daarop gemik om ‘n humanitêre krisis te voorkom. Volgens Ntshavheni word vertragings in die verwerking van sake grootliks toegeskryf aan die beperkte vermoëns van Malawi se diplomatieke sending:
# Statistiek Suid-Afrika sê kragopwekking het in Mei met nege-persent gedaal in vergelyking met dieselfde maand verlede jaar, en elektrisiteit wat beskikbaar is vir verspreiding het met 4,3-persent gedaal. Kragopwekking het maandeliks met 0,6-persent gestyg en verspreiding het met 1,5-persent toegeneem ná die seisoenale aanpassing. Tsholofelo Ditinti van Statistiek SA sê in die drie maande tot Mei was die opwekking 2,2-persent minder in vergelyking met die vorige tydperk van drie maande, terwyl verspreiding met 1,7-persent toegeneem het:
# Die Madlanga-kommissie het bewerings van onregmatige bedrywighede aangehoor waarin die direkteure van die Carnilinx-tabakmaatskappy, Adriano Mazzotti en Mohamed Sayed, die geskorste adjunkhoof van Misdaadintelligensie, Feroz Khan, en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens betrek word. Getuienisleier Adila Hassim het getuienis voorgelê oor ongeregistreerde sigaretvervaardiging, onregmatige toesig oor Inkomstediens-beamptes, kontantbetalings vir vertroulike inligting, en onbehoorlike betalings aan regskenners wat verband hou met belastingaangeleenthede:
# ‘n Oekraïense vrou as ‘n man vermom was, is die hoofverdagte in ‘n bomaanval wat Maandag ‘n Oekraïense magnaat in Monaco gewond het. Die nege-en-dertigjarige Anastasiia Berezovska word gesoek sedert ‘n bom by die ingang van een van Monaco se deftigste woonstelgeboue ontplof het, met die Oekraïens-gebore sakeman Vadym Yermolaiev as teiken. Die bomaanval word beskou as ‘n sluipmoordpoging, die eerste ooit aangeteken op Monaco se veilige, hoogs bewaakte strate. Daar was verlede jaar geen moorde of selfs pogings tot moord in die stad nie.
# Fietsry: Die viermalige Tour de France-kampioen Chris Froome het uitgetree en sy roemryke loopbaan van meer as twee dekades afgesluit. Die 41-jarige het sy besluit aangekondig kort voor die aanvang van vanjaar se tydren, wat môre begin en die 26ste in Parys eindig. Froome het nie weer aan ‘n wedren deelgeneem nadat hy verlede jaar ernstig beseer is tydens oefening in Frankryk nie. Hy spog ook met twee Vuelta a Espana-titels en een Giro d’Italia-oorwinning as lid van Span Sky, wat later hernoem is na Span Ineos.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-56-sent teen die euro en 21-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-970-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-166-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 71-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….