Nuus 17:00
BULLETIN 17 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa beloof diplomatieke betrokkenheid met Amerika oor die Ebrahim Rasool-kwessie
# Trump en Putin gaan Oekraïne môre oor die telefoon bespreek
# En rugby: Die Bulle pak die voorloper op die VRK-punteleer, Leinster, Saterdag op Loftus
# President Cyril Ramaphosa sê die regering sal ‘n nuwe gesant na Washington stuur nadat die ambassadeur, Ebrahim Rasool, uit die land gesit is. Die minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, het Rasool daarvan beskuldig dat hy ‘n rasgedrewe politikus is wat Amerika haat en het verklaar hy is nie welkom in dié land nie. Ramaphosa het die media gesê hy wag vir Rasool se volledige verslag en gee die versekering diplomatieke gesprekke met die VSA duur voort:
# Die Internasionale Watervereniging se 14de konferensie oor waterherwinning-en-hergebruik vind tans in Kaapstad plaas. Watervolhoubaarheid en -vernuwing word op die vyfdaagse konferensie bespreek, met Kaapstad wat beplan om een van die wêreld se grootste aanlegte vir die hergebruik van water op te rig. Die burgemeesterskomiteelid vir Water en Sanitasie, Zahid Badroodien, sê die konferensie sal transformasie aandryf en gemeenskappe met vernuwende wateroplossings bemagtig:
# Die Noord-Kaapse LUR vir Paaie en Openbare Werke, Fufe Makatong, vra motoriste om versigtig te wees nadat swaar reën, donderstorms en sterk wind padtoestande in die provinsie versleg het. Roetes wat geraak word sluit gebiede in die ZF Mgcawu-, John Taolo Gaetsewe-, Francis Baard-, Namakwa- en Pixley Ka Seme-distrikte in. Die departement se woordvoerder, Zandisile Luphahla, sê kitsvloede het padsluitings en ontwrigtings veroorsaak en omvattende skade is aangemeld:
# Die Kremlin het bevestig die Russiese president, Vladimir Putin, en sy Amerikaanse ampsgenoot, Donald Trump, sal môre telefonies gesels. Trump het vroeër aan verslaggewers gesê beide kante het baie werk gedoen om die Oekraïnse konflik te beëindig. Trump se spesiale gesant, Steve Witkoff, was verlede week in Moskou om die besonderhede van ‘n gesamentlike wapenstilstandsplan tussen Amerika en Oekraïne voor te lê, wat ‘n onderbreking van 30-dae in vyandelikhede in die vooruitsig stel.
# Rugby: ‘n Naelbytstryd word Saterdag op Loftus verwag tussen die Bulle en die voorloper op die Verenigde Rugbykampioenskaps-puntleer, Leinster. Die spelers het twee dae gelede reeds aangeland om aan die dun Hoëveldse lug gewoond te raak. Leinster het nie sy toergroep aangekondig nie, maar die Springbokslot RG Snyman en die All Black Jordie Barrett is vermoedelik ingesluit. Sestien spelers van Leinster het Saterdag vir Ierland gespeel in die Sesnasieswedstryd teen Italië en daar word nie verwag dat hulle na Suid-Afrika sal reis nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-147-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-989-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….