Nuus 17:00
BULLETIN 14 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Oos-Kaapse vrou se kêrel word gevonnis tot 25-jaar tronkstraf vir sy rol in haar moord
# Die DA beskuldig die ANC en die EFF dat hulle inwoners se teenkanting oor die naamsverandering van Sandton-rylaan ignoreer
# En ‘n Amerikaanse beïnvloeder verlaat Australië na ‘n herrie oor ‘n baba-buidelmuis
# Die Hooggeregshof in Gqeberha het een van drie mans wat gekoppel word aan die moord op die Oos-Kaapse vrou Vicki Terblanche, tot 25-jaar tronkstraf gevonnis. Die 36-jarige Reinhardt Leach het in Oktober 2021 gehelp om sy meisie te bedwelm, versmoor en in ‘n vlak graf te begrawe. Die staat voer aan Leach, Terblanche se vervreemde man, Arnold Terblanche, en ‘n derde man, Dylan Cullis, het saamgesweer om haar te vermoor. Cullis het vroeër ‘n pleitooreenkoms aangegaan en is tot 18-jaar gevonnis. Arnold Terblanche se verhoor sal in Oktober begin.
# AfriForum het die Parlement aangemoedig om die verwerking van DNS-bewyse deur privaat laboratoriums en universiteite te oorweeg aangesien die polisie se Forensiese Wetenskapslaboratorium ‘n agterstand van 140-duisend sake het. Jacques Broodryk van AfriForum glo die vertragings laat slagoffers sonder geregtigheid terwyl misdadigers vry rondloop. Dienskontrakte word nie hernu nie en belangrike forensiese toerusting word nie gebruik nie. Hy sê die staat het misluk en die privaat sektor moet toegelaat word om te help om doeltreffendheid te herstel:
# Die DA het die ANC, ActionSA, die EFF en die Patriotic Alliance gekritiseer dat hulle ondanks besware van duisende inwoners voortgaan om Sandton-rylaan in Johannesburg se naam te verander na dié van die Palestynse politikus, Leila Khaled. Volgens die party is die mosie om die verandering terug te trek, gister deur die raad verwerp. Lynda Shackleford van die DA voer aan dat Johannesburg eerder moet fokus op dienslewering in plaas van simboliese veranderings:
# Motorsport: Lewis Hamilton sê sy eerste mededingende dag in ‘n Ferrari was heeltemal anders, maar hy sien uit daarna om op die eerste Grand Prix in Australië meer spoed uit die motor te haal. Die sewemalige wêreldkampioen het in Januarie amptelik by Scuderia begin werk na sy onverwagte skuif van Mercedes na 12 jaar. Hoewel die Brit 162 rondes voltooi het tydens toetse in Bahrein, was hy die eerste keer agter ‘n Ferrari se stuurwiel in ‘n Grand Prix. Hy was 12de in die eerste oefenronde en vyfde in die tweede.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-354-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-994-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 69-dollar-79-sent per vat.
# En laastens, die Amerikaanse beïnvloeder Sam Jones het Australië volgens berigte verlaat, ‘n dag nadat dit bekend geword het dat plaaslike owerhede haar visumstatus hersien oor ‘n video wat wys hoe sy ‘n baba-buidelmuis by sy ma wegneem. Die ma hardloop ontsteld agterna terwyl Jones die pad oorsteek, en sy sê later sy sal eerder die kleintjie terugneem. Buidelmuise het regs-beskermingstatus in Australië. Die minister van Binnelandse Sake, Tony Burke, het ‘n ondersoek bevestig om te bepaal of Jones haar verblyfvoorwaardes oortree het, en sê sy sal waarskynlik nie terugkeer nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….