Nuus 17:00
BULLETIN 11 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die dodetal in die Gautengse busongeluk styg tot 16
# Die minister van Elektrisiteit bevestig prestasie by die Kendal-kragstasie daal tot 52-persent
# En ‘n Oekraïense hommeltuig-aanval tref Moskou voor vredesamesprekings in Jedda begin
# Die dodetal in vanoggend se busongeluk op die R21 in Kemptonpark, Gauteng, het tot 16 gestyg nadat nog vier passasiers in die hospitaal gesterf het. Die bus, wat aan die Ekurhuleni-munisipaliteit behoort, het meer as 70 passasiers van Katlehong na Kemptonpark vervoer toe dit omgeslaan het toe die bestuurder ‘n ander voertuig probeer vermy het. Oorlewendes het die toneel as chaoties beskryf en sê passasiers het by die vensters uitgeval. Die owerhede hou vol die bus was padwaardig. Die ondersoeke duur voort.
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê prestasie by die Kendal-kragstasie het van 81-persent tot 52-persent gedaal. Hy het by die aanleg in Mpumalanga prestasiekwessies aangehaal wat die naweek bygedra het tot Fase 3-beurtkrag. Die minister eis vinnige verkrygingsprosesse terwyl deursigtigheid veseker word. Hy het bevestig Eskom se bestuur sal al die kragstasies besoek om optimale prestasie te handhaaf as deel van pogings om die netwerk bestendig te kry:
# Build One South Africa vra die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om op ekonomiese groei en werkskepping te fokus in môre se begrotingsrede. Die party het 76-miljard-rand se bestedingsbesnoeiings identifiseer, insluitend die vemindering in reddingsboeie vir staatsondernemings, die verkleining van die kabinet en die skrapping van BBP-beskerming vir politici. Hulle waarsku teen nuwe belastings en vra groter beleggings in infrastruktuur. Roger Solomons van BOSA vra sterk optrede om fisikale dissipline te herstel en die doetreffende gebruik van openbare fondse te verseker:
# Die Russiese ministerie van Verdediging sê sy lugverdedigingseenhede het 337 hommeltuie afgeskiet in wat skynbaar die grootste Oekraïense hommeltuigaanval op Rusland in drie jaar was. Dit volg terwyl Oekraïense amptenare hul Amerikaanse ampsgenote in Jedda, Saoedi-Arabië, ontmoet oor samesprekings om die oorlog te beëindig. Altesaam 126 hommeltuie is in die Koersk-streek afgeskiet en 91 in die omgewing van Moskou. Die ministerie sê burgerlikes het gesterf en sommige is beseer. Die land se lugvaartwaghond sê vlugte is opgeskort op al vier die lughawens in Moskou.
# Krieket: Australië en Engeland gaan in 2027 150 jaar se toetskrieket in Melbourne vier. Die wedstryd in Maart sal die eerste toets ooit tussen die aartsvyande in dié stad in 1877 herdenk. Dit sal die eerste dag/aand-manstoets op die MCG wees. Krieket Australië se uitvoerende hoof, Todd Greenberg, sê om onder die ligte te speel, sal ‘n fantastiese manier wees om die sport se ryk erfenis sowel as toetskrieket se moderne ontwikkeling te vier. Australië het Engeland met 45 lopies geklop in die eeufeestoets op die MCG in 1977.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 23-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-511-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-911-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 69-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….