Nuus 17:00
BULLETIN 10 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie ontken bewerings dat die hoof van Misdaadintelligensie afgedank is
# Zelensky is in Saoedi-Arabië vir samesprekings met Amerika oor die beëindiging van die oorlog met Rusland
# En rugby: Die Bokke is steeds boaan die wêreldranglys al het hulle in November laas gespeel
# Die polisie het City Press se bewering ontken dat die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, afgedank is, en noem die uitsprake roekeloos en misleidend. Die DA het vroeër die minister van Polisie, Senzo Mchunu, se beweerde besluit verwelkom om Khumalo af te dank omdat hy nie die taakspan teen politieke moorde ontbind het nie. Die polisie hou egter vol dat Khumalo in sy rol aanbly en voortgaan met sy pligte as afdelingskommissaris van Misdaadintelligensie.
# Die voorsitter van die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge, Songezo Zibi, sê hulle is gereed om regerings-aanspreeklikheid te verseker ten opsigte van begrotingsbesteding. Hy het voor die begrotingsrede kommer uitgespreek oor stygende skuld, ondoeltreffende besteding en die inperking van die USAID-befondsing wat noodsaaklike programme beïnvloed. Zibi beklemtoon dat miljarde-rand verloor word deur waterverliese en uitermatig hoë huurkontrakte. Hy vra deursigtigheid en doeltreffende bestuur van openbare fondse:
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement sal môre die betydse aansoeke vir graad R-, 1-, en 8-leerders open, wat op 15 April sluit. Ouers moet gesertifiseerde dokumente, insluitende identiteitsdokumente, bewys van adres en inentingsrekords, aanlyn indien. Persoonlike bystand is by 125 opwip-geleenthede beskikbaar. Die LUR vir Onderwys, David Maynier, moedig ouers aan om vroegtydig aansoek te doen om plekke te verseker vir die 2026-skooljaar:
# Oekraïne se president, Volodimir Zelensky, sal later vandag in Saoedi-Arabië aankom voor belangrike samesprekings met Amerikaanse amptenare oor die beëindiging van die oorlog met Rusland. Hy sê Oekraïne wil vrede hê en Rusland is die enigste rede vir die voortslepende oorlog. Môre se hoogs-verwagte onderhandelings tussen Amerikaanse en Oekraïense amptenare het ten doel om ‘n oplossing te vind vir die konflik van die afgelope drie-jaar. Amptenare van hierdie lande sal die eerste keer vergader sedert Zelensky se rampspoedige besoek aan die Withuis verlede maand.
# Rugby: Die Springbokke is steeds veilig boaan die wêreldranglys al het hulle in November laas gespeel, maar Ierland het die tweede plek aan die All Blacks afgestaan na Saterdag se nederlaag teen Frankryk, wat vierde is. Les Bleus het die geleentheid verbrou om die eerste keer sedert Julie 2022 bo Ierland op te skuif, deur ‘n voorsprong van 42-13 deur hulle vingers te laat glip om uiteindelik 42-27 te wen. Die res van die top-tien bly dieselfde met Argentinië vyfde, gevolg deur Engeland, Skotland, Australië, Fidji en Italië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-656-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-906-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….