Nuus 17:00
BULLETIN 7 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu steun die oproep om ‘n tekort in befondsing vir MIV/Vigs-behandeling aan te vul
# Johannesburg se burgemeester verseker gereedheid vir die G20-beraad te midde van Ramaphosa se kritiek
# En, die Vaaldam is die eerste keer sedert 2023 vol
# Die vakbondfederasie Cosatu het die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, se oproep aan die regering verwelkom om die befondsingstekort aan te vul wat veroorsaak is deur Amerika se besluit om die presidensiële noodplan vir Vigs-verligting te beëindig. Sowat 500-duisend MIV/Vigs-pasiënte maak staat op die program. Matthew Parks van Cosatu moedig die minister van Finansies, Enoch Godongwana, aan om befondsing in die begroting toe te wys:
# Die burgemeester van Johannesburg, Dada Morero, gee die versekering dat die stad gereed sal wees om in November die G20-beraad aan te bied. Hy het die opmerking gemaak tydens die nasionale uitvoerende gesag se tweedaagse besoek aan die Gautengse provinsiale uitvoerende raad. Dit volg ná president Cyril Ramaphosa se kritiek rakende die swak toestand van die stad en sy beskrywing daarvan as ‘n onaangename omgewing. Morero het Ramaphosa gerusgestel en sê Johannesburg sal nie teleurstel nie:
# Die Vaaldam is die eerste keer sedert 2023 vol ná voortdurende reën. Die watervlak het teen vanoggend tot 100-persent gestyg teenoor Woensdag se 97,73-persent. Owerhede beklemtoon egter voortdurende waterbesparing is noodsaaklik ondanks die mylpaal, weens onvoorspelbare weerpatrone. Die dam is ontwerp om oortollige water deur sluise vry te laat en hou dus geen gevaar in om oor te loop nie. Amptenare beplan om die uitvloei te verhoog sodat die vlak bestuur kan word en om oorstromings te voorkom.
# Derduisende mense is ontruim en sowat 84-duisend huishoudings in die donker gelaat terwyl ‘n seldsame tropiese sikloon die ooskus van Australië nader. Sikloon Alfred sal na verwagting môreoggend as ‘n kategorie twee-sikloon die land tref, met wind-snelhede van tot 130-kilometer per uur. Oorstromings is reeds veroorsaak en owerhede vrees dit kan oor die naweek vererger. Vier-miljoen mense in Queensland en die noorde van Nieu-Suid-Wallis kan geraak word aangesien tot 800-millimeter reën verwag word.
# Krieket: Nieu-Seeland hoop die snelbouler Matt Henry herstel betyds van ‘n skouerbesering voor Sondag se Kampioenetrofee-eindstryd teen Indië in Doebai. Hy het sy regterskouer beseer terwyl hy ‘n bal probeer vang het in Woensdag se halfeindstryd teen Suid-Afrika. Henry is ‘n sleutelspeler in Nieu-Seeland se droom om die 50-boulbeurt-toernooi te wen. Hy het boulsyfers van vyf vir 42 aangeteken in die laaste groepswedstryd teen Indië, wat hulle verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-390-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-913-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….