Nuus 17:00
BULLETIN 6 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa waarsku oor bestuursmislukkings en infrastruktuur-uitdagings in Gauteng
# OUTA is gewikkel in ‘n stryd met die Padverkeers-bestuurskorporasie oor geheimsinnige transaksiefooie van ‘n miljard-rand
# En ‘n gewese wêreld-nommer-een-tennisspeler, Fred Stolle, sterf op 86
# President Cyril Ramaphosa waarsku dat bestuursmislukkings en swak infrastruktuur in Gauteng ‘n bedreiging vir vooruitgang in die provinsie is. Hy het in Johannesburg teenoor provinsiale leiers finansiële wanbestuur, onbetroubare dienslewering en toenemende misdaad beklemtoon. Ramaphosa het regeringsleiers aangemoedig om saam te werk om die uitdagings doeltreffender aan te pak, om ekonomiese groei te versterk en werk te skep. Hy sê Gauteng se sukses is noodsaaklik vir Suid-Afrika se ekonomie:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik daag die Padverkeersbestuurskorporasie uit oor sy geheimsinnige hantering van ‘n miljard-rand se transaksiefooie. Die organisasie beweer die korporasie weier om bekend te maak hoe hy die fooie bepaal vir motoriste al vra hy al langer as twee jaar vir die inligting. Andrea van Heerden van OUTA voer aan dat hierdie gebrek aan deursigtigheid die publiek se vertroue ondermyn, veral aangesien die korporasie ‘n groot oorskot opgebou het:
# Die speaker van Johannesburg se raad, Nobuhle Mthembu, het kommer uitgespreek oor raadslede se veiligheid en sê die beleid hieroor moet afgehandel word. Dit volg nadat die ANC-raadslid, Zakhele Mathe, verlede maand vermoor is. Raadslede het tans geen lyfwagte nie, maar kan beskerming by die Johannesburgse metropolisie kry indien nodig. Mthembu sê haar kantoor bly verbind om met wetstoepassing saam te werk sodat raadslede gemeenskappe sonder vrees kan dien.
# Die Australiese tenniskampioen en voormalige wêreld-nommer-een, Fred Stolle, is geloof vir sy uitnemendheid, toewyding en groot liefde vir die sport na sy dood op 86-jarige leeftyd. Hy het 19 Grand Slam-titels gewen en daarna ‘n legendariese kommentator geword. Stolle het in 1965 die Franse Ope gewen en die jaar daarna die Amerikaanse Ope. Sy ander Grand Slam-titels was in die dubbelspel, waar hy al vier die mans-Grand Slam-toernooie minstens twee keer gewen het. Tennis Australië se uitvoerende hoof, Craig Tiley, sê Stolle was ‘n ikoon.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-235-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-902-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 69-dollar-39-sent per vat.
# En ten slotte: Die Wes-Kaapse regering het sy hartseer uitgespreek oor die dood van die aktrise Crystal-Donna Roberts. Sy is op 41 dood aan kanker. Roberts was bekend vir haar rolle in televisiereekse, flieks en op die verhoog, soos dié van Krotoa in die gelyknamige fliek en Janice in die reeks Arendsvlei, waarvoor sy onder meer toekennings as beste aktrise ontvang het. Die LUR vir Kultuursake en Sport, Ricardo Mackenzie, sê Roberts se passie en toewyding sal voortleef in haar nalatingskap en bydrae tot die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….