Nuus 17:00
BULLETIN 4 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit verleen hulp aan werkers wat deur ArcelorMittal se sluitings geraak word
# ‘n Gautengse kinderchirurg word onskuldig bevind aan die dood van drie pasiënte
# En rugby: Die Stormers kontrakteer die Haaie se Bok-stut om die uitgetrede Kitshoff te vervang
# Solidariteit het ‘n hulpprojek van stapel gestuur om werkers by te staan wat deur die sluiting van ArcelorMittal se langstaalaanlegte geraak word. Die sluiting van aanlegte in Newcastle in KwaZulu-Natal, Vereeniging in Gauteng en eMalahleni in Mpumalanga is verlede Vrydag bevestig, ondanks onderhandelings wat ‘n maand lank geduur het. Afleggingsgesprekke is byna afgehandel. Willie Venter van Solidariteit kritiseer die regering dat hy te laat ingegryp het en die maatskappy dat hy nie sy aanlegte vroeër gemoderniseer het nie:
# ‘n Bekende Gautengse kinderchirurg is onskuldig bevind aan moord na die dood van drie kinders wat hy geopereer het. Die Hooggeregshof in Johannesburg het bevind die staat kon nie bewys dat Peter Beale op roekelose en bedrieglike wyse onnodige operasies gedoen het om sy finansiële posisie te herstel ná hy 1,5-miljoen-rand in die berugte Tannenbaum Ponzi-skema verloor het nie. Regter Thifhelimbilu Mudau het bevind die staat se saak het in duie gestort sonder ‘n motief. Beale is in 2019 in hegtenis geneem en van moord, strafbare manslag en bedrog aangekla.
# Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings sê hy is toenemend bekommerd oor die ontstellende toename in inhoud wat wreedheid teenoor diere uitbeeld en aanlyn in die land gedeel word. Sanam Naran van die raad sê mense wat geneig is tot sekere persoonlikheidsversteurings, kindertrauma of geestesgesondheidsprobleme is meer geneig om dié gedrag te openbaar. Sy sê sosiale aanvaarding speel ‘n belangrike rol want individue soek erkenning, of ‘n gevoel dat hulle tuis hoort, deur sosiale media:
# Die Europese Unie waarsku dat Amerika se tariewe op Kanadese en Mexikaanse invoere die bestendigheid van die trans-Atlantiese ekonomie bedreig en dit kan globale handel ontwrig. Die EU doen ‘n beroep op Washington om sy besluit om te keer. Streng Amerikaanse tariewe is ingestel nadat die spertyd om dit te verhoed, verstryk het sonder dat ‘n ooreenkoms tussen die lande bereik is. Die EU se woordvoerder, Olof Gill, sê Mexiko en Kanada is die EU se ekonomiese vennote deur twee afsonderlike ooreenkomste. Die EU het vroeër aangekondig hy gaan handelsbetrekkinge met Mexiko versterk.
# Rugby: Die Springbok-loskopstut Ntuthuko Mchunu gaan die Haaie die einde van die seisoen verlaat en by die Stormers aansluit om die leemte te vul wat die Bok-veteraan Steven Kitshoff se uittrede gelaat het. Die 25-jarige het in drie toetse vir Suid-Afrika uitgedraf sedert hy sy buiging in 2022 gemaak het saam met die losvoorspeler Evan Roos en die haker Deon Fourie, wat nou sy spanmaats in Kaapstad gaan word. Die Stormers se direkteur van rugby, John Dobson, sê Mchunu se veelsydige en atletiese spel is sleutelbates.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-327-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-925-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….