Nuus 17:00
BULLETIN 2 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula prys Suid-Afrikaners wat die oproep verwerp het om die land op 30 Junie tot ‘n stilstand te bring
# Die Konstitusionele Hof vra die Stad Kaapstad om te herbesin oor die Tafelberg-behuisingsplan
# En, Rugby: Airlink onthul ‘n vliegtuig spesiaal getooi in groen vir die toetsreeks tussen die Bokke en die All Blacks
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sê Suid-Afrikaners het Dinsdag oproepe verwerp om die land tot stilstand te bring, met skole, besighede, openbare vervoer en klinieke wat normaalweg met hulle werksaamhede voortgegaan het. Mbalula het tydens ‘n media-inligtingsessie burgers bedank omdat hulle vrede gekies het en wetstoepassingsagentskappe geprys vir die handhawing van orde. Hy het gewaarsku geen individu of groep moet die reg in eie hande neem nie:
# Die Vereniging van Staatsamptenare is woedend oor die Raad vir Mediese Skemas se besluit om nie die voorstel van die Mediese Skema vir Staatsamptenare goed te keur nie. GEMS wou die gemiddelde bydraeverhoging van 9,5- tot 7,5-persent verminder. Die vakbond se woordvoerder, Claude Naicker, sê hul is veral ontsteld oor GEMS se verklaring dat hulle steeds daartoe verbind is om bekostigbaarheid te bevorder en die finansiële las op lede te verlig:
# Die Konstitusionele Hof vra Kaapstad en die Wes-Kaapse regering om hulle planne vir die gewese terrein van die Tafelberg-skool in Seepunt te heroorweeg. Die provinsie moet ook verslag doen oor sy planne vir bekostigbare behuising nadat die hof bevind het die openbare raadplegingsproses was onvoldoende. Die GOOD-party se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die uitspraak is ‘n reuse-oorwinning vir ruimtelike geregtigheid, en bevestig openbare grond moet ongelykheid help uitwis:
# ‘n Elf-jarige seun word aangehou nadat hy met ‘n bakkie vasgery het teen ‘n groep monnike wat op ‘n pelgrimstog in noordoos-Thailand was. Amptenare sê agt van die 35 monnike is dood. Vyf is op die toneel dood, en drie ander het in die hospitaal gesterf. Veertien ander is hospitaal toe geneem, met vier in ‘n bedenklike toestand. Kringtelevisie-beeldmateriaal wys hoe die monnike agter mekaar langs die pad stap voordat die bakkie hulle tref. Die omstandighede rondom die voorval word nog ondersoek.
# Rugby: Suid-Afrika se grootste streekslugdiens, Airlink, het ‘n Embraer E190-straler in groen getooi om sy rol as die amptelike binnelandse lugredery vir die toetsreeks tussen die Springbokke en die All Blacks te vier. Die vliegtuig is by Airlink se verfaanleg in Polokwane, Limpopo, oorgeverf en spog met die reeks se amptelike kenteken. Die uitvoerende hoof, De Villiers Engelbrecht, sê die vliegtuig sal die twee spanne tussen wedstryde vervoer en op belangrike binnelandse en streeksroetes gebruik word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-26-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-542-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-118-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 70-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….