Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement slaan toe op spookwerkers met die Ziveze-veldtog
# Tesla-aandele val nadat Europese verkope daal
# En argeoloë ontdek ‘n sirkel soortgelyk aan Stonehenge in Denemarke
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement het begin met die Ziveze-veldtog om spookwerkers van sy salarisrol te verwyder. Die veldtog het ten doel om 85-duisend-642 werknemers na te gaan en te verseker slegs wettige personeel word betaal. Ses-en-sestig onbevestigde persone se salarisse is sedert gister bevries. Motalatale Modiba van die departement sê hulle is besig met die bevestigingsproses en meer as 31-duisend werknemers is tot dusver nagegaan. Modiba sê die veldtog sal tot einde volgende maand duur:
# Die GOOD-party sê die regering van nasionale eenheid moet apartheid-apologete teenstaan deur ‘n pro-arm begroting deur te voer. Die party glo hoewel wit landsburgers net sewe-persent van die bevolking uitmaak, is hulle baie beter daaraan toe. GOOD se woordvoerder, Brett Herron, versoek die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om demokrasie te verdedig en te verseker diegene wat dit kan bekostig, moet bydra tot die bou van ‘n meer gelyke samelewing:
# Aandele in die elektriese motorvervaardiger, Tesla, het meer as nege-persent gedaal nadat verkope in die Europese Unie en die Verenigde Koninkryk verlede maand byna halveer het. Die maatskappy se waarde het daarmee die eerste keer sedert November tot onder duisend-miljard-dollar teruggesak. Tesla se verkope het verlede jaar die eerste keer in meer as ‘n dekade gedaal namate die vraag daal en mededingers verbeter. Boonop is die eienaar, Elon Musk, omstrede aan albei kante van die Atlantiese Oseaan as ‘n noue bondgenoot van die Amerikaanse president, Donald Trump.
# Sokker: Liverpool se hoofafrigter, Arne Slot, is vir twee Premierliga-wedstryde geskors na chaos gedurende hierdie maand se Merseyside-derbie teen Everton. Slot het ‘n rooikaart gekry nadat hy die wedstrydbeamptes beledig het. Hy is met 1,6-miljoen-rand beboet. Slot se hulp-afrigter, Siphe Hulshoff, is ook vir twee wedstryde geskors en met 160-duisend-rand beboet. Die twee klubs is ook swaar beboet na ʼn onderonsie tussen die spelers na die eindfluitjie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-504-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-911-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-28-sent per vat.
# En ten slotte: Deense argeoloë het op ‘n vier-duisend-jaar-oue sirkel met houtstapels afgekom wat hulle vermoed met die wêreldberoende Stonehenge in Brittanje verbind kan word. Die 45 stukke hout uit die Nuwe Steentydperk is in ʼn sirkel met ‘n deursnee van 30-meter gerangskik. Dis ontdek tydens bouwerk aan ʼn behuisingsprojek in Aars in die noordweste. Die twee klip-sirkels by Stonehenge in die suide van Engeland is vermoedelik tussen drie-duisend-100- en duisend-600-jaar voor Christus opgerig. Deense argeoloë probeer nou bepaal of daar ‘n binnekring op die terrein in Aars is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….