Nuus 17:00
BULLETIN 25 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa moedig tradisionele leiers aan om aandag te gee aan geslagsgeweld en inisiasiesterftes
# Die SABC-raad herhaal ‘n dringende oproep vir ‘n besluit oor sy befondsingsmodel
# En krieket: Die Kampioenetrofee-wedstryd tussen Suid-Afrika en Australië word afgelas sonder dat ‘n enkele bal geboul is
# President Cyril Ramaphosa het tradisionele leiers aangemoedig om sterk standpunt in te neem teen geslagsgeweld en inisiasiesterftes. Hy het in sy toespraak aan die Nasionale Huis van Tradisionele en Khoi-San-leiers gevra meer moet gedoen word om hierdie geweld en sterftes te voorkom, veral in die Oos-Kaap. Volgens Ramaphosa werk die regering saam met tradisionele leiers om aandag te gee aan dié kwessies en om gemeenskappe te beskerm:
# Die voorsitter van die SABC-raad, Khathutshelo Ramukumba, het oproepe vir dringende optrede oor die Wetsontwerp op die SABC herhaal, om die openbare uitsaaier se befondsingsmodel aan te pak. Ramukumba het teenoor SABC News beklemtoon al gaan die bedrywighede in die korttermyn voort, is daar steeds onsekerheid oor langtermyn volhoubaarheid. Hy het die regering versoek om die wetsontwerp te finaliseer en die SABC se finansiële toekoms en openbare uitsaaimandaat te verseker:
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, verwerp misleidende bewerings rondom buitensporige besteding aan haar reiskoste toe sy die minister van Menslike Nedersettings was. Kubayi verduidelik die aangetekende koste, ter waarde van 400-duisend-rand vir haar reise na Beijing en San Francisco was oordrewe. Haar werklike verblyfkoste was aansienlik minder. Die ministerie se woordvoerder, Terrence Manase, sê die minister het die syfers amptelik reggestel in die Parlement:
# Krieket: Vandag se Kampioenetrofee-wedstryd tussen Suid-Afrika en Australië in Pakistan is afgelas sonder dat ‘n enkele bal geboul is. Aanhoudende reën in Rawalpindi het veroorsaak dat die kapteins nie eens kon loot nie. Dit beteken die spanne deel die punte en elkeen kry ‘n punt. Die lande het nou albei drie punte na vroeë oorwinnings oor onderskeidelik Afganistan en Engeland. Die Proteas speel hulle laaste groepswedstryd Saterdag teen Engeland en Australië kom die vorige dag teen Afganistan te staan.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-204-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-930-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-84-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse reeks Shamwari Untamed is gekeur vir die Blue Bird-rolprentfees. Die reeks van 13 programme gee ‘n kykie agter die skerms van die bestuur van die Shamwari-privaat wildreservaat in die Oos-Kaap. Dit word hoofsaaklik vertel uit die oogpunt van die wildveearts Johan Joubert en die ekoloog John O’Brien. Dit het ook toekennings gekry op die onlangse Indo Dubai- en die Asian Independent- internasionale rolprentfees. Shamwari se uitvoerende hoof, Joe Cloete, sê die reeks is die akkuraatste, insiggewendste en mees outentieke uitbeelding van die bewaringspan se ongelooflike werk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….