Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mbalula herhaal Suid-Afrika se MIV/Vigs-program is nie ten volle afhanklik van Amerikaanse hulp nie
# ‘n Trein trap ses olifante dood in Sri Lanka
# En Vrye Weekblad sluit weer na ‘n digitale herlewing
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sê Suid-Afrika se MIV/Vigs-program kan voortgaan ten spyte van Amerikaanse befondsingsbesnoeiings. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het opdrag gegee om USAID-befondsing te staak. Mbalula het in Kaapstad erken organisasies sonder winsoogmerk kan geraak word, maar beklemtoon die land het die program bestuur voor USAID betrokke was. Hy sê besprekings word gehou om ‘n volhoubare oplossing te vind:
# ActionSA sê politieke aanvalle op die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Edward Kieswetter, is onaanvaarbaar en bedreig die diens se onafhanklikheid. Die party het die minister van Finansies, Enoch Godongwana, en die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, gekritiseer oor hul uitlatings terwyl hul mikrofone af was op ‘n nuuskonferensie ná die begrotingsrede gister uitgestel is. Alan Beesley van ActionSA steun Kieswetter se oproep vir verbeterde belastinginvordering in plaas van belastingverhogings:
# ‘n Passasierstrein het ontspoor nadat dit ‘n trop olifante getref het naby ‘n wildreservaat in sentraal-Sri Lanka. Niemand is beseer nie, maar ses olifante is dood. AFP berig twee beseerde diere word behandel. Volgens die polisie is dit die ergste natuurlewe-ongeluk nog in die land. Daar is na raming sewe-duisend wilde olifante in Sri Lanka, waar hulle deur die wet beskerm word. Om ‘n olifant dood te maak is ‘n misdaad wat strafbaar is met gevangenisstraf of ‘n boete.
# Rugby: Die Argentynse toets-voorspeler Guido Petti Pagadizabal gaan vir die 2025/26-seisoen van die Franse klub Bordeaux-Begles na Harlequins verskuif. Die Los Pumas-slot, met 87 toetse agter sy naam, het 62 keer vir die Top14-finalis gespeel nadat hy in 2020 van die Superrugby-klub Jaquars oorgekom het. Die 30-jarige, wat ook flank kan speel, het in die Wêreldbekertoernooie van 2015, 2019 en 2023 vir Argentinië gespeel. Hy gaan by sy landgenoot Rodrigo Isgro aansluit by Quins, wie se stadion, Stoop, naby Twickenham is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-377-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-943-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-98-sent per vat.
# Ten slotte: Die Afrikaanse anti-apartheidskoerant, Vrye Weekblad, sluit weer. Redakteur Max du Preez is diep teleurgesteld oor die einde van sy digitale herlewing nadat dit in 1994 die eerste keer moes sluit weens finansiële druk. Die koerant was bekend vir sy onverskrokke kritiek op apartheid. Teistering en finansiële druk het hom gedwing om sy deure te sluit, twee maande voor die aanbreek van demokrasie. Dit het in 2019 aanlyn herleef, maar sluit nou permanent. Du Preez sê dis die einde van ‘n belangrike hoofstuk in Afrikaanse joernalistiek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….