Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika begin met vergaderings van die G20 se indiensnemings-werksgroep
# Rugby: Die Varsitybeker-kragmeting tussen die Ikeys en Eagles word na ‘n onbekende plek verskuif na ‘n betoging
# En Baby Savers SA merk ‘n toename in kinderverlatings op terwyl die aannemingskoers laag bly
# Suid-Afrika bied die vergaderings van die G20 indiensnemings-werksgroep in Gqeberha in die Oos-Kaap aan, wat fokus op arbeid- en indiensnemingskwessies. Die vierdaagse geleentheid sal jeug-indiensneming, geslagsgelykheid, inkomste-ongelykheid en die uitwerking van digitalisering dek. Gastelande in Afrika is genooi om streeksamewerking te bevorder. Die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, sê die vergaderings strook met Suid-Afrika se tema vir die presidentskap van die G20, wat solidariteit, gelykheid en volhoubaarheid is:
# Die Owerheid vir die Privaat Veiligheidsbedryf het die beweerde sekerheidsmisbruike by die Zanzou-nagklub in Pretoria veroordeel. Grafiese beeldmateriaal wys geweld en menseregteskendings deur veiligheidspersoneel. PSiRA se direkteur, Manabela Chauke, het ‘n dringende ondersoek aangekondig en waarsku oor moontlike skorsings en regstappe. Chauke versoek slagoffers en getuies om voorvalle aan te meld. Hy sê PSiRA bly daartoe verbind om te verseker privaat sekerheid funksioneer ingevolge die wet en beskerm die waardigheid van alle mense.
# Die DA bly bekommerd die befondsde dienste van die presidensiële noodplan vir VIGS-verligting het nog nie hervat nie ondanks die Amerikaanse regering se aankondiging dat kritieke programme kwytgeskeld word. Die party waarsku vertragings met die herinstelling van die dienste stel daagliks duisende lewens in gevaar. DA-woordvoerder Karl le Roux versoek die Gesondheidsdepartement om kommunikasie met Amerikaanse owerhede te verskerp om befondsing te herstel en die 15-duisend gesondheidsorgposte te beskerm wat deur die bevriesing geraak word:
# Rugby: Die Varsitybeker-kragmeting tussen die Universiteite van Kaapstad en Noordwes word vanaand op ‘n onbekende plek gespeel nadat dit gisteraand afgelas moes word. Die wedstryd in die eerste ronde op Ikeys se tuisveld kon nie voortgaan nie omdat betogers die veld betree het. Hulle het glo betoog teen die gebrek aan voldoende verblyf vir studente op kampusse. Die organiseerders sê vanaand se wedstryd vind sonder toeskouers plaas en Ikeys se rugbyklub kan gekontak word vir terugbetaling van kaartjies.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-233-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-914-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-82-sent per vat.
# En ten slotte: Baby Savers in Suid-Afrika het ‘n toename in kinderverlatings opgemerk, maar die aannemingskoers bly laag. Die organisasie vra dringende wetswysigings rondom die bekendstelling van veilige alternatiewe vir ma’s wat in ‘n krisis verkeer. Woordvoerder Dee Blackie beklemtoon die behoefte aan regeringsondersteuning om onveilige verlatings te voorkom en kwesbare babas te beskerm:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….