Nuus 17:00
BULLETIN 25 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Tumelo Nku vermy selfbeskuldiging voor die Madlanga-kommissie
# Cosatu ondersteun die Wysigingswetsontwerp op Spesiale Pensioene en sê dis progressief
# En, aardbewings in Venezuela eis minstens 164 lewens, met reddingswerkers wat steeds in puin na oorlewendes soek
# Die sakeman Tumelo Nku weier om te sê hoe hy sekere inligting bekom het en het voor die Madlanga-kommissie getuig hy kan homself benadeel as hy die bron bekend maak. Nku word beskuldig dat hy saam met die geskorste Gautengse Verkeerspolisiehoof, Samuel Mashaba, gewerk het om ‘n vals polisie-operasie te reël sodat gekonfiskeerde kokaïen gesteel kon word. Hy betwis bewerings dat hy ‘n dwelmhandelaar is en hou vol hy het eerder as ‘n vertroulike bron opgetree:
# Die vakverbond Cosatu sê die Wysigingswetsontwerp vir Spesiale Pensioene is lank agterstallig en soek regmatig versekering dat ontvangers van spesiale pensioene die volle voordele, beskerming en regte kry wat hulle toekom. Die vakverbond het sy voorlegging ter ondersteuning van die wetsontwerp aan die Parlement voorgelê. Matthew Parks van Cosatu sê die wetsontwerp bevestig hoe die land sy menslikheid bewys op die manier hoe bejaardes, spesifiek diegene wat so baie vir die land gedoen het, versorg word:
# Build One South Africa sê Kaapstad se verlies van sy skoon ouditstatus toon dat die stad voltydse leierskap benodig. Die ouditeur-generaal het volgens berigte die stad se skoon ouditstatus herroep weens swakpunte in verkryging en die bestuur van die voorsieningsketting. Roger Solomons van BOSA voer aan die inwoners word onderwerp aan stygende lewenskoste, infrastruktuurdruk, verkeersopeenhoping en veiligheidskwessies, en benodig leierskap wat ten volle op dienslewering gefokus is. Solomons belowe beter bestuur onder BOSA-leierskap voor die plaaslike regeringsverkiesing.
# Verlede nag se twee opeenvolgende aardbewings in Venezuela het die lewens van minstens 164 mense geëis en sowat ‘n duisend beseer. Reddingswerkers soek steeds deur die puin van verwoeste geboue in die hoofstad, Caracas, terwyl oorlewendes om hulp roep. Waarnemende president Delcy Rodríguez het ‘n noodtoestand afgekondig en sê daar was reeds 30 naskokke. Die aardbewings, met sterktes van 7,2 en 7,5, het binne ‘n minuut na mekaar plaasgevind. Die tweede was die sterkste in Venezuela sedert 1900. Die Amerikaanse Geologiese Opname waarsku die dodetal kan duisende beloop.
# Krieket: Vaibhav Sooryavansha sal na verwagting môre Indië se jongste internasionale speler nog word in die eerste T20 teen Ierland in Belfast. Hy is op 15-jaar en 91-dae selfs jonger as die kolflegende Sachin Tendulkar wat sy buiging op 16 gemaak het. Sooryavansha het tydens vanjaar se Indiese Premierliga 776 lopies in 16 beurte vir Rajasthan Royals aangeteken. Hy het vroeër die week ook die rekord vir die vinnigste vyftigtal in Lys A-eendagkrieket verpletter toe hy dit van slegs 11 balle gemoker het vir Indië A teen Sri Lanka A.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-48-sent teen die dollar, 18-rand-71-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-158-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-22-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 73-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….