Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA-leier wil ‘n korrupsiesaak aanhangig maak teen minister Nzimande
# Die ANC-Jeugligapresident sê lede skaar hulle net agter die kantoor van die president, nie individue nie
# En, krieket: Smith glo SA20 en toetse kan saamloop
# Die DA-leier John Steenhuisen het president Cyril Ramaphosa beskuldig van lafhartigheid omdat hy misluk om die land se uitdagings te pak. Steenhuisen se opmerking volg op die vrystelling van beweerde opnames wat die minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande en die raadsvoorsitter van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, Ernest Khosa, betrek by omkopery. Steenhuisen beskou die bewerings as ernstig en vra Ramaphosa om beslissend op te tree teen kaders wat van korrupsie beskuldig word:
# Die president van die ANC-Jeugliga, Collen Malatji, sê kollektiewe verdediging wentel rondom steun vir die kantoor van die president, nie individuele lede nie. Die party se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het openlik erken dit was ‘n leuen om die swembad op oudpresident Jacob Zuma se Nkandla-landgoed as ‘n brandpoel te beskryf. Malatji het op die ANC se 112de bestaansviering in Mbombela, Mpumalanga, gesê die kwessie van werkloosheid het nou aandag nodig. Hy het eenheid gevra met die pak van dwingende maatskaplik-ekonomiese uitdagings waarmee jongmense te doen het:
# Woedende boere wat gekant is teen die Duitse regering se planne om weg te doen met belastingkortings vir landbou, het vandag trekkers gebruik om paaie regoor die land te versper tydens ‘n verergerende geskil. Die gekoördineerde landwye verset-optrede is veral toegespits op opritte by motorweë. Die polisie berig oor versperrings asook groot verkeersontwrigting weens trekkerkonvooie wat sedert die vroeë oggendure stadig beweeg regoor Duitsland. Plaastoerusting versper middestede insluitende dié van Berlyn, Hamburg, Keulen en Bremen.
# Krieket: Die kommissaris van die SA20, Graeme Smith, glo die gewilde reeks kan saamloop met toetskrieket. Die oud-nasionale kaptein het reageer op die omstredenheid omdat Suid-Afrika ‘n tweederangse groep na Nieu-Seeland stuur vir twee toetse omdat nasionale spelers hulle moes verbind aan die SA20. Sewe van die spelers in die groep het nie vantevore vir die Proteas gespeel nie, waaronder die toerkaptein, Neil Brand. Smith sê beide formate kan saam groei, en wys daarop die T20-toernooi word net oor vier weke per jaar gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-49-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 45-duisend-140-dollar-6-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-22-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-20-sent per vat.
# Ten slotte: Pous Franciskus het ‘n beroep gedoen vir ‘n globale verbod op surrogaatskap en sê die praktyk van ‘n ma wat ‘n ander mens se kind dra, is “betreurenswaardig”. In sy Nuwejaarstoespraak voor diplomate by die Vatikaan het die pous gesê dit is ‘n “ernstige skending van die waardigheid van die vrou en die kind”. In ‘n toespraak wat oorheers is deur beroepe vir ‘n einde aan konflikte regoor die wêreld, het die pous gesê die pad na vrede eis respek vir lewe. Hy sê dit begin met die lewe van die ongebore kind in die ma se baarmoeder.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….