Nuus 17:00
BULLETIN 11 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# KwaZulu-Natal se premier vra Ramaphosa om op te tree teen politieke moorde
# Ramaphosa bevestig die nasionale dialoog sal nie grondwetlike mandate vervang nie
# En tennis: Donald Ramphadi van Suid-Afrika dring deur na die eindstryd van die rolstoel-dubbels op Wimbledon
# Die premier van KwaZulu-Natal, Thami Ntuli, het president Cyril Ramaphosa versoek om politieke moorde voorop te stel en die uitlatings van die provinsiale polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, te ondersoek. Ntuli het op ‘n nuuskonferensie in Umbilo, Durban, gevra vir verantwoording, en vertroue in Ramaphosa uitgespreek om te reageer op Mkhwanazi se plofbare bewerings van politieke inmenging by misdaadvoorkoming in die provinsie:
Ramaphosa het intussen herbevestig die nasionale dialoog sal nie die grondwetlike rol van die Parlement en die regering vervang nie. Ramaphosa het tydens ‘n gesprek met die groep vooraanstaande persone in die Uniegebou in Pretoria beklemtoon die doel van die dialoog is om vooruitgang in die land te ondersteun en te lei, maar mag nie die besluite omverwerp wat deur verkiesings of amptelike regeringsprosesse bepaal is nie:
# NotInMyName International sê Suid-Afrika moet daartoe verbind bly om sy verlede trompop te loop en ‘n regverdige en verenigde toekoms te bou. Die organisasie se president, Siyabulela Jentile, sê dit volg nadat die Hooggeregshof in Pretoria ‘n polisiebeampte uit die apartheidsera, Johan Marais, tot 15 jaar tronkstraf gevonnis het vir die moord op die studente-aktivis Caiphus Nyoka in 1987. Hy sê hierdie langverwagte aanspreeklikheid is ‘n belangrike oomblik in Suid-Afrika se voortgesette stryd vir geregtigheid en die waarheid:
# Die minister van Wetenskap, Tegnologie en Innovering, Blade Nzimande, sê sterrekunde bly een van Suid-Afrika se voorkeur-bedrywe. Hy sê bouwerk aan die Square Kilometer Array in die Noord-Kaap vorder goed, en dit sal na verwagting teen 2030 voltooi wees. Die SKA-sterrewag-lidlande se algehele buitelandse belegging in Suid-Afrika vir die SKA Mid-Array is 9,5-miljard-rand. Nzimande sê uit hierdie bedrag word 3,2-miljard-rand aan die Suid-Afrikaanse Radio Astronomie Sterrewag en Suid-Afrikaanse ondernemings toegeken deur middel van boukontrakte.
# Tennis: Donald Ramphadi van Suid-Afrika en Gregory Slade van Britanje het die eerste keer deurgedring na die eindstryd van die rolstoel-dubbelspel op Wimbledon. Hulle het die tweede-gekeurde Ahmet Kaplan van Turkye en Sam Schroder van Nederland in ‘n naelbyt-halfeindstryd 7‑6, 1‑6, 7‑5 verras. Ramphadi en Slade speel Sondag in die eindstryd teen die eerste-gekeurde Guy Sasson van Israel en Niels Vink van Nederland in ‘n geskiedkundige mylpaal op die All England Club.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-90-sent teen die dollar, 20-rand-93-sent teen die euro en 24-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-779-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-353-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….