Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is…….
In die bulletin:
# Mbeki kritiseer Trump se uitvoerende bevel oor Suid-Afrika
# Die EU onderneem om terug te slaan teen Trump se tariewe op staal en aluminium-invoere
# En rugby: Die Bokke speel teen Argentinië op Twickenham in die laaste Rugbykampioenskapswedstryd
# Oudpresident Thabo Mbeki bestempel die Amerikaanse president, Donald Trump, se uitvoerende bevel teen Suid-Afrika as betreurenswaardig. Mbeki het teenoor SABC News Trump se bevel gekritiseer weens verkeerde inligting oor die land se beleid. Hy beklemtoon die belangrikheid van voortgesette skakeling met die Trump-administrasie om die waninligting agter die besluit reg te stel. Mbeki versoek Suid-Afrika om diplomatieke pogings voort te sit om sy internasionale betrekkinge te beveilig:
Die hoof van die Europese Unie, Ursula von der Leyen, onderneem intussen om daadwerklik terug te slaan teen Trump se besluit om tariewe in te stel op staal- en aluminium-invoere. Die Duitse kanselier, Olaf Scholz, sê ook die EU sal as ‘n verenigde front reageer en saam optree as die grootste mark ter wêreld. Trump het uitvoerende bevele onderteken om vanaf 12 Maart tariewe van 25-persent in te stel op staal- en aluminiuminvoere, ten spyte van waarskuwings van Europa en China.
# Tshwane se burgemeester, Nasiphi Moya, het erken die metro is reeds vir ‘n paar jaar verwaarloos. Sy het die vordering genoem wat tot dusver gemaak is om van die sleutel-diensleweringskwessies aan te pak. Moya het ook ‘n opdatering oor haar eerste 100 dae in die amp gegee en erken daar moet meer gedoen word om uitdagings soos die waterkrisis, vervalle infrastruktuur en die hoë werkloosheidsyfer te oorkom:
# Rugby: Die Springbokke se veldtog in vanjaar se Rugbykampioenskap eindig op 4 Oktober teen Argentinië op Twickenham in Londen. Dit sal die spanne se eerste wedstryd op ‘n neutrale veld wees in die suidelike halfrond se grootste kompetisie. Los Pumas sal die wêreldkampioen se derde oorsese teenstander in drie seisoene in die ikoniese stadion wees nadat hulle Nieu-Seeland in ‘n opwarmingswedstryd vir 2023 se Wêreldbekertoernooi 35-7 verslaan het, en Wallis verlede seisoen 41-13. Die Bokke begin hulle seisoen op 5 Julie teen Italië.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-49-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-798-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-882-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-91-sent per vat.
# En ten slotte: Bioverskeidenheid in Kenia ondervind groot bedreigings soos droogtes, ontbossing, veranderende grondgebruik en infrastruktuur-ontwikkeling. Volgens ʼn verslag van Nature Kenya word slegs drie van die 56 belangrike gebiede wat ondersoek is, as gunstig beskou. Bedreigings sluit in verlies aan bedreigde spesies se habitat, voëls wat in kraglyne vasvlieg en besoedeling. Ongereguleerde lewende hawe dra volgens berigte ook by tot konflik tussen mens en natuur. Ondanks ʼn afname in bewaringspogings, beloof regeringsagentskappe en nie-regeringsorganisasies om saam te werk en die land se ryke ekostelsels te beskerm.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….