Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# China steun Suid-Afrika se G20-leierskap te midde van Amerikaanse boikotdreigemente
# AfriForum gee die ANC die skuld vir Trump se stellings
# En, krieket: Lungi Ngidi en Tabraiz Shamsi is ingesluit in die Protea se groep vir Maandag se wedstryd teen Nieu-Seeland
# China onderskryf Suid-Afrika se G20-presidentskap en bevestig wêreldwye samewerking ten spyte van dreigemente van ‘n boikot deur die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio. Dié steun versterk glo Pretoria se leierskap nadat vrae ontstaan het oor Suid-Afrika se diplomatieke bande met BRICS-lande, insluitend China en Rusland. Ontleders sê China se steun wil ontluikende ekonomieë bemoedig om globale beleid te vorm, want Suid-Afrika se presidentskap is ‘n deurslaggewende oomblik in globale diplomasie.
AfriForum beskuldig ANC-leiers intussen daarvan dat hulle die skuld moet dra vir die besluit van die Amerikaanse president, Donald Trump, om befondsing aan Suid-Afrika te staak. Hulle voer aan Trump se besorgdheid oor eiendomsreg en die behandeling van minderhede volg uit die ANC se Onteieningswet en die BELA-wet. AfriForum se woordvoerder, Jacques Broodryk, glo die ANC se anti-Westerse buitelandse beleid het verhoudings verder vertroebel. Hy eis wysigings aan wette wat eiendom en kulturele regte bedreig:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê die regering se bewerings dat meer as tien-miljard-rand van staatskapingsake teruggekry is, is misleidend omdat dit slegs ‘n klein gedeelte is van die geraamde 500-miljard-rand wat verlore gegaan het weens korrupsie. Die organisasie kritiseer die stadige vordering met die vervolging van die verantwoordelikes en die versuim om meer beskerming aan verklikkers te bied. Stefanie Fick van OUTA sê sonder daadwerklike optrede sal korrupsie aanhou floreer en belastingbetalers sal die las dra:
# Die maatskaplike sekerheidsagentskap SASSA versoek begunstigdes van maatskaplike toelaes om hul gouekaarte teen 28 Februarie met swartkaarte te vervang by die Posbank. Gouekaarte sal na hierdie datum gedeaktiveer word, sodat onttrekkings en transaksies nie kan plaasvind nie. Die omruilproses het in September 2024 begin en duisende het reeds oorgeskakel. Begunstigdes kan hul swartkaarte met ‘n geldige Suid-Afrikaanse ID landwyd by uitgesoekte kleinhandelaars afhaal. Die agentskap sê die nuwe kaarte bied dieselfde voordele, is onmiddellik van krag en het verbeterde sekerheid.
# Krieket: Die Proteas se witbal-afrigter, Rob Walter, het die ervare spelers, Lungi Ngidi en Tabraiz Shamsi, in die groep ingesluit wat Maandag in Pakistan teen Nieu-Seeland speel in die eerste wedstryd in ‘n driehoekige eendagreeks. Ses nuwelinge is vroeër ingesluit terwyl verskeie groot name weggelaat is voor die Kampioenetrofeetoernooi wat die 19de in Pakistan begin. Die groep vir die res van die driehoekige reeks word Sondag bekendgemaak, na môre se eindstryd van die SA20 tussen MI Cape Town en Sunrisers Eastern Cape.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-669-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-861-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….