Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Amnestie Internasionaal Suid-Afrika vra minder afhanklikheid van Amerika te midde van Trump se kritiek
# Australië aanvaar wette teen haatspraak, insluitend ‘n jaar tronkstraf vir ‘n Nazi-saluut
# En rugby: SARU gaan onafhanklike finansiële raadgewers aanstel om die toekoms te beplan
# Die direkteur van Amnestie Internasionaal Suid-Afrika, Shenilla Mohamed, versoek die land om Amerikaanse invloed te weerstaan ná president Donald Trump se omstrede uitlatings. Sy kritiseer ook Trump se optrede om mense uit Gaza te verwyder en noem dit menseregteskendings. Sy het teenoor Newzroom Afrika beklemtoon uiteenlopendheid en regverdigheid is kenmerkend van Suid-Afrika se demokrasie. Mohamed vra die vermindering van afhanklikheid van Amerika ondanks moontlike finansiële gevolge:
# Die vakbond Solidariteit sê die Nasionale Gesondheidsversekering bly finansieel onvolhoubaar en kan privaat mediese fondse benadeel. Die ANC en die DA se verstandhouding maak voorsiening vir privaat fondse om voort te gaan, maar lede sal steeds vir die NGV moet betaal, wat hul finansiële las sal vererger. Theuns du Buisson van Solidariteit is ten gunste van hul Wetsontwerp op die Hervorming van Gesondheidsbefondsing en glo dit bied ‘n meer volhoubare en finansieel lewensvatbare oplossing:
# Zimbabwe se president en voorsitter van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, Emmerson Mnangagwa, vra ‘n dringende skietstilstand in die Demokratiese Republiek die Kongo. Dit volg op berigte dat Rwandees-gesteunde rebelle nog ‘n dorp naby Bukavu oorgeneem het ondanks die vorige aankondiging van ‘n skietstilstand. Swaar gevegte duur voort met Goma steeds onder die beheer van M23-rebelle. Mnangagwa se versoek kom voor die komende naweek se spitsberaad van die SAOG en die Oos-Afrika-gemeenskap in Tanzanië:
# Australiese parlementslede het wetgewing teen haatspraak goedgekeur met minimum vonnisse vir ‘n reeks oortredings, insluitend ‘n jaar tronkstraf vir ‘n Nazi-saluut. Die polisie het verlede week gesê hulle stel ondersoek in nadat hulle op mynbouplofstof in ‘n woonwa aan die buitewyke van Sydney afgekom het, asook skriftelike dreigemente teen Joodse instellings. Vandale het die afgelope maande ‘n kindersorgsentrum in Sydney afgebrand, ‘n sinagoge in Melbourne is met petrolbomme bestook en anti-Semitiese graffiti is in Joodse woonbuurte aangebring.
# Rugby: Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se hoofraad het op ‘n vergadering in Johannesburg besluit om ʼn finansiële instelling aan te stel om die sport se finansiële ekostelsel te hersien. Dit volg op Desember se mislukking om die verlangde 75-persent steun vir ʼn privaat aandelevoorstel deur die Ackerley-sportgroep te bekom. Die eerste stap in die nuwe proses is om ʼn instelling met ʼn onafhanklike keuringsproses aan te wys om lede raad te gee oor alle aspekte van finansiële volhoubaarheid en die rol van ʼn moontlike privaat aandelebelegging.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-61-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 23-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-413-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-861-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….