Nuus 17:00
BULLETIN 3 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Gwede Mantashe stel voor Afrika weerhou minerale van Amerika oor befondsingsbesnoeiing
# ‘n Nuwe kontrakteur is aangestel om Lilian Ngoyistraat in Johannesburg te herstel ná die gasontploffing van 2023
# En krieket: Engeland se vrouespan word hersien ná die 16de agtereenvolgende nederlaag teen Australië
# Die minister van Minerale Hulpbronne, Gwede Mantashe, stel voor Afrika moet sy minerale weerhou uit wraak vir Amerikaanse befondsings-besnoeiing. Dit volg op president Donald Trump se aankondiging dat befondsing aan Suid-Afrika weerhou gaan word weens sy grondonteienings-beleid. Mantashe het Amerika op die 2025 Mynbou-indaba in Kaapstad gekritiseer dat hy Afrika se hulpbronne vat. Hy het Afrikalande gevra om hulle minerale rykdom te beskerm en tot hulle eie voordeel in te span:
# Die Stad Johannesburg sê die herstel van Lilian Ngoyistraat is weer op dreef na die gasontploffing van Julie 2023. ‘n Nuwe kontrakteur, Korone-ingenieurswerke, is aangestel na ‘n skikking met die vorige kontrakteur. Die eerste fase is geskeduleer om in Augustus vanjaar afgehandel te wees, terwyl die tweede fase in Augustus volgende jaar voltooi te wees. Burgemeester Dada Morero het die media ingelig dat die projek 80 werksgeleendhede sal skep en 28 klein ondernemings sal steun:
# Die DA vra dringende ingryping omdat Gauteng se e-taxibestuuders toenemend deur rowers geteiken word. Daar was al voorvalle waar misdadigers hulself as passasiers voordoen om bestuurders te oorrompel. In ‘n onlangse voorval is twee verdagtes geskiet, een noodlottig, tydens ‘n mislukte rooftog in Eldoradopark. Michael Sun van die DA versoek meer polisiepatrollies, verbeterde veiligheidsmaatreëls en verhoogde gemeenskapsbetrokkenheid om die aanvalle te bekamp:
# Krieket: Die Engelse en Walliese Krieketraad het ‘n hersiening beloof nadat Engeland se vroue hul 16de agtereenvolgende wedstryd teen Australië in die reeks om die As verloor het. Australië het die eenmalige toets teen die besoekers in Melbourne met ‘n beurt en 122 lopies gewen en ook in die T20’s en die eendagreeks skoonskip gemaak. Engeland kon sedert 2014 nog nie die As wen nie. Die adjunk- uitvoerende hoof, Clare Conner, ontken dat die span nie professioneel is nie. Sy sê wanneer ‘n span onderpresteer, sal alles bespreek word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-80-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-35-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-809-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-50-sent per vat.
# En ten slotte: Misdadigers in Suid-Afrika gebruik kunsmatige intelligensie om hul swendelary te verbeter deur KI-vervaardigde video’s van bekendes te gebruik om bedrieglike beleggingskemas te bevorder. Volgens ‘n Moneyweb-verslag word KI-kletsbotte as ‘n aanvanklike filter aangewend wat moontlike slagoffers dan teiken en hulle met oortuigende rekeningbestuurders verbind om die transaksie te beklink. Bedrieërs teiken kwesbare mense met beloftes van hoë opbrengste, ten spyte daarvan dat hulle nie by die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor geregistreer is nie. Kenners waarsku dat KI hierdie misdade laat toeneem en niksvermoedende Suid-Afrikaners teiken.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….