Nuus 17:00
BULLETIN 31 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fase 3-beurtkrag word ingestel
# Die EFF onthul belangrike besluite voor die plaaslike regeringsverkiesing
# En krieket: Die Proteas speel Sondag teen Indië in die eindstryd van die Onder 19-Wêreldbekertoernooi vir vroue
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, het bevestig dat fase 3-beurtkrag vanaf 5-uur vanmiddag vir die res van die naweek toegepas sal word weens beplande instandhouding en onbeplande onderbrekings. Hy het aan die media gesê Eskom gee voorkeur aan die bestendigheid van die netwerk en vul reserwes aan om verdere ontwrigtings te voorkom. Ten spyte van die terugslag, hou Ramokgopa vol dat vordering gemaak word met die vermindering van beurtkrag, met bykomende opwekkingsvermoë wat na verwagting in die komende maande sal terugkeer:
Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê intussen Suid-Afrikaners betaal steeds te veel vir elektrisiteit, ondanks laer as verwagte prysstygings. Tariewe sal vanaf April met 12,7-persent styg, wat veel laer is as Eskom se aansoek vir meer as 36-persent. Die organisasie kritiseer Eskom se prysstruktuur en beweer dit plaas steeds las op verbruikers. Uitvoerende hoof Wayne Duvenhage sê Eskom se finansiële probleme en wanbestuur dra by tot hoë elektrisiteitskoste. Hy vra beter regulering van die nutsdiens se pryse:
# Die EFF het belangrike besluite uiteengesit voor volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing. Party-leier Julius Malema het tydens die derde nasionale volksvergadering in Johannesburg gesê die Studentebevel sal herdoop word na die Jeugbevel en verantwoordelik wees vir die ontbinding van streekstrukture om plek te maak vir sub-streekstrukture en die stigting van ‘n politieke onderwyskollege. Hy het ook ‘n prestasie-oorsigstelsel vir ontplooide lede aangekondig en die party se verwerping van die Wet op Grondonteiening herbevestig:
# Krieket: Suid-Afrika speel Sondag teen Indië in die eindstryd van die Onder-19-Wêreldbekertoernooi vir vroue in Maleisië. Die jong Proteas het Australië met vyf paaltjies geklop in vandag se eerste halfeindstryd nadat Ashleigh van Wyk vier paaltjies geneem het. Die Aussies is beperk tot 105 vir agt, waarna Jemma Botha die beste telling van 37 vir Suid-Afrika aangeteken het. Hulle het die teiken bereik met 11 balle oor. Indië het Engeland in die tweede halfeindstryd beperk tot 113 vir agt en binne 15 boulbeurte met nege paaltjies gewen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-63-sent teen die dollar, 19-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-893-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-805-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-78-sent per vat.
# En ten slotte: Inwoners van Gauteng is gewaarsku om voor te berei vir ‘n hittegolf môre. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê ‘n temperatuur van tot 33-grade Celsius word in Johannesburg verwag, 34 in Vereeniging en 35 in Pretoria. Die owerhede vra inwoners om genoeg vloeistof te drink, regstreekse sonlig te vermy en ‘n blaaskans te neem as hulle buite werk. Die hittegolf sal ook dele van Mpumalanga en Limpopo raak. Die Weerdiens het ook intussen waarskuwings uitgereik oor erge donderstorms en brandgevaar in verskeie provinsies.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….