Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Reserwebank verlaag die terugkoopkoers met 25 basispunte
# Die Filippynse president wil met Trump vergader om die optrede teen immigrante te bespreek
# En, sokker: Roy Keane sê Marcus Rashford behoort hom te skaam oor sy ballingskap
# Daar is goeie nuus vir Suid-Afrikaners met skuld. Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee het die terugkoopkoers met 25 basispunte verlaag, wat beteken handelsbanke se prima-uitkeerkoers verlaag tot 11-persent. Die bank sê die ekonomie het in die derde kwartaal ingekrimp, hoofsaaklik weens ‘n skerp daling in landbouproduksie. Die president van die bank, Lesetja Kganyago, verwag egter ‘n ommekeer in die vierde kwartaal, aangevuur deur verhoogde landbou-uitset, sterk huishoudelike besteding en onttrekkings van die tweepot-pensioenstelsel:
# Die hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag, Rudzani Maphwanya, herbevestig soldate van die SANW is op ‘n vredesending in die Demokratiese Republiek die Kongo, en weerspreek aansprake van die Rwandese president, Paul Kagame. Volgens hom is hulle mandaat om gewapende groepe te neutraliseer en bestendigheid te herstel. Maphwanya bevestig ook hulle sal die oorskot van die 13 gestorwe soldate na hul families repatrieer:
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, Antonio Gutteres, het Israel gevra om sy besluit om te keer om die VN se Hulp- en Werksagentskap vir Palestyne te verbied om in Jerusalem te werk. Hy skryf aan die Israelse regering ‘n beperking op die agentskap se werksaamhede sal ‘n reuse-invloed hê op humanitêre hulp aan die besette Palestynse gebiede. Israel se Parlement het die wetgewing in Oktober aanvaar en dit is van vandag van krag. Phillippe Lazzarini van die agentskap sê die verbod gaan verskriklike gevolge hê:
# Die Filippynse president, Ferdinand Marcos, wil met sy Amerikaanse ampsgenoot, Donald Trump, vergader om die nuwe administrasie se optrede teen immigrante te bespreek. Trump het sy tweede ampstermyn afgeskop met ‘n reeks uitvoerende bevele om immigrasie te hersien. Hy het ook sommige buitelandse hulpprogramme vir 90-dae opgeskort, hangende ‘n befondsingsoorsig. Honderde ongedokumenteerde immigrante is in hegtenis geneem sedert hy na die Withuis teruggekeer het en talle migrante is verlede week uitgeskop. Die Filippynse gesant in Washington, José Manuel Romualdez, sê daar was 80 Filippyne onder diegene wat gedeporteer sou word.
# Sokker: Die voormalige kaptein van Manchester United, Roy Keane, sê Marcus Rashford behoort hom te skaam oor sy ballingskap onder hoofarigter, Ruben Amorim. Die 27-jarige het sewe weke laas vir United gespeel. Amorim sê hy moet verander indien hy in die toekoms weer op Old Trafford wil speel. Die Engelse voorspeler is nie ingesluit in die groep vir vandag se Europese Ligawedstryd in Roemenië teen FCSB nie. Rashford word verbind met ʼn moontlike leenooreenkoms met Barcelona, maar daar is min tyd oor voor Maandag se sluitingsdatum vir oorplasings.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-298-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-780-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-39-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….