Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum eis die openbare vrystelling van die Weermag se bevindings in die DRK-ondersoek
# Jy kan tronk toe gaan in Pakistan indien jy waninligting aanlyn versprei
# En, krieket: Nege toeskouers deel reeds prysgeld van twee-miljoen-rand in die SA20
# AfriForum dring aan op ‘n onmiddellike ondersoek na die dood van 13 Suid-Afrikaanse soldate in die Demokratiese Republiek die Kongo na ‘n aanval deur M23-rebelle. Die versoek volg op berigte van beweerde wangedrag met die SANW se betrokkenheid by vredespogings onder die Verenigde Nasies se sending om die DRK bestendig te maak. AfriForum se woordvoerder, Jacques Broodryk, eis antwoorde oor risikobepaling, koördinering met ander magte en ondersteuning vir die naasbestaandes van gesneuwelde soldate:
# Die DA se federale raad het onderneem om probleme by sukkelende munisipaliteite reg te stel voor die komende plaaslike regeringsverkiesing. Die party beloof om dorpe en stede van verdere agteruitgang te red en sal aandag skenk aan wydverspreide kwessies soos wanbestuur, swak dienslewering en verswakkende infrastruktuur. Die DA se federale voorsitter, Ivan Meyer, sê die party is daarop gefokus om bekwame raadslede te verkies wat die herstel van noodsaaklike dienste soos water, elektrisiteit en paaie voorop sal stel:
# Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat ondervind uitdagings met toesig weens agterstande met sake en beperkte vermoë. Die 167 ondersoekers in die direktoraat hanteer elkeen jaarliks ongeveer 300 sake. In die jongste verslag vir 1 April 2023 tot 31 Maart 2024 is daar meer as 15-duisend onopgeloste sake, ondanks die voltooiing van vier-duisend-667 ondersoeke. Slegs 24-persent van misdaadtonele word binne 24-uur besoek. Woordvoerder Lizzy Suping sê beperkings met begrotings is ‘n groot uitdaging. Vakante ondersteuningsposte word tans na ondersoeker-poste omgeskakel om vermoë te verbeter.
# Pakistan het dit ‘n misdaad gemaak om waninligting aanlyn te versprei en wetgewing deurgevoer met strawwe van tot drie jaar tronkstraf. Joernaliste sê dit is ontwerp om teenstanders te muilband. Die wet teiken enigiemand wat inligting opsetlik aanlyn versprei wanneer hulle rede het om te glo dis vals of versin en kan waarskynlik vrees, paniek, wanorde of onrus saai, of skep. Die wet is sonder vooraf waarskuwing deur die Nasionale Vergadering gestoomroller voordat dit deur die Senaat goedgekeur is terwyl joernaliste uit verset die galery verlaat het.
# Krieket: Nege toeskouers deel reeds twee-miljoen-rand in die SA20. Die borg bied die bedrag aan om te verdeel tussen alle toeskouers wat die bal met een hand vang. Die jongste vangskoot was gisteraand in die Paarl waar Paarl Royals Durban’s Super Giants verslaan het. Die ander was op Nuweland, Centurion, Durban en Gqeberha. Die prys beloop tans 222-duisend-rand vir elk van die wenners. Die borg onderneem om die wengeld te verdubbel indien die toeskouer ʼn geldige Betway Suid-Afrika-rekening het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-804-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-746-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….