Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Polisiebetrokkenheid word vermoed in die verdwyning van ‘n vermeende baasbrein in onwettige mynbou in Stilfontein
# Tennis: Emma Navarro vra ‘n reëlverandering na ‘n omstrede beslissing teen haar gaan
# En ‘n reuse-ysberg stuur op ‘n afgeleë Britse eiland af
# Noordwes se polisie ondersoek van hulle eie lede wat vermoedelik gehelp het met die ontsnapping van ‘n vermeende baasbrein van onwettige mynbou in Stilfontein. James Tshoaeli, bekend as Tiger, het verdwyn kort na sy inhegtenisneming. Hy is aangekeer nadat hy en ander onwettige mynwerkers uit ‘n skag te voorskyn gekom het na ‘n langdurige tweestryd met die polisie. Waarnemende provinsiale kommissaris, Patrick Asaneng, sê Tshoaeli is nooit by ‘n stasie aangemeld of in ‘n hospitaal opgeneem nie. Hy sê hulle duld nie korrupte lede nie.
In die Oos-Kaap is borgtog toegestaan aan ‘n polisie-offisier wat verbind word met ‘n rooftog by die kantore van Misdaadintelligensie in Oos-Londen. Kaptein Ntombekhaya Patricia August staan tereg op aanklagte van diefstal en dwarsboming van die gereg in verband met die beweerde diefstal van meer as ‘n miljoen-rand uit die kantore. Volgens Luxolo Tyali, van die Nasionale Vervolgingsgesag, sal die beskuldigde in Maart weer in die hof verskyn:
# Die hoof van die Valke, Godfrey Lebeya, het bevestig daar word deurlopend ondersoek ingestel na die ampstermyn van die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, as munisipale bestuurder van Ba-Phalaborwa in Limpopo. Ntshavheni word verdink van korrupsie in verband met ‘n rekeningkundige kontrak van 2,5-miljoen-rand in die 2008/2009-boekjaar. Lebeya sê die Valke het die saak reeds in 2021 ondersoek en sal bevindinge aan die Nasionale Vervolgingsgesag voorlê sodra die ondersoek afgehandel is:
# Tennis: Die agste-gekeurde Emma Navarro vra ‘n reëlverandering nadat sy aan die ontvangkant was van ‘n omstrede beslissing in haar Australiese Ope-kwarteindstryd teen Iga Swiatek. Skeidsregter Eva Asderaki-Moore het beslis die Amerikaner het te laat appelleer nadat ‘n kykweer getoon het die bal het twee keer gebons voor die Pool dit teruggeslaan en die punt gewen het. Swiatek het 6-1, 6-2 gewen om deur te dring na die halfeindronde. Navarro sê spelers behoort na ‘n punt te kan appelleer selfs as hulle in so ‘n geval aanhou speel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 22-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-431-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-742-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-41-sent per vat.
# En ten slotte: Die wêreld se grootste ysberg stuur af op ‘n afgeleë Britse eiland, wat ‘n moontlike gevaar inhou vir pikkewyne en robbe. Die ysberg, bekend as A23a, is een van die wêreld se oudstes en beweeg noordwaarts vanaf Antarktika na Suid-Georgië, ‘n ongerepte Britse gebied en toevlugsoord vir wildlewe. Ysberge is normaalweg onvoorspelbaar maar die moontlikheid bestaan dat dit teen die eiland kan bots en verbrokkel. Dit is tans 280 kilometer van die eiland af. Suid-Georgië is die tuiste van kolonies koning- en keiserpikkewyne en miljoene olifant- en pelsrobbe.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….