Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is…….
In die bulletin:
# Die minister van Binnelandse Sake herhaal die belangrikheid van ‘n e-paspoort vir veiligheidsdoeleindes
# Die Britse eerste minister wil verhinder dat onder-18’s messe aanlyn koop
# En, tennis: Jannik Sinner behaal ‘n maklike oorwinning oor Alex de Minaur om die Australiese Ope se halfeindronde te bereik
# Die Departement van Binnelandse Sake het herhaal hoe belangrik biometriese e-paspoorte is om identiteitsbedrog te bekamp, ná ‘n tien-persent verbetering op die Henley-paspoortindeks. Suid Afrika is tans 48ste wêreldwyd en die groen mamba-paspoort is die eerste keer in ‘n dekade in die top 50. Minister Leon Schreiber het teenoor eNCA die voortdurende digitale hervormings beklemtoon, insluitend visumprosesse wat vaartbelyn is om die integriteit van dokumente en globale beweeglikheid verder te bevorder:
# Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings sê die rooivleisbedryf en die Departement van Landbou is steeds besluiteloos ten opsigte van die welsynsbekommernisse oor varke in Suid-Afrikaanse slagpale. Woordvoerder Bryce Marock sê verskeie internasionale regeringskundige komitees het die gebruik van koolstofdioksiedgas veroordeel as ‘n metode om te verdoof, met verwysing na ernstige welsynsbekommernisse, insluitende langdurige verlies van bewussyn, versmoring en uiterste asemnood. Hy sê hulle eis onmiddellike optrede om die ingewortelde mislukkings in slagpale aan te pak:
# Die Britse eerste minister, Keir Starmer, onderneem strenger maatreëls om te verhinder dat onder-18’s messe aanlyn koop. Starmer beskryf die proses as skokkend maklik nadat dit aan die lig gekom het die tiener wat verlede Julie drie jong meisies met ‘n mes vermoor het, die mes aanlyn by Amazon gekoop het. Axel Rudakubana was 17 tydens die aanval. Starmer sê daar is tegnologie om ouderdomme te verifieer, selfs vir kombuismesse wat aanlyn bestel word.
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Jannik Sinner, het min moeite ondervind om die plaaslike held, Alex de Minaur, uit die Australiese Ope te boender. Die Italiaanse wêreld-nommer-een het die agste gekeurde De Minaur in skoon stelle verslaan – 6-3, 6-2, 6-1 – en kom Vrydag in die halfeindronde teen Ben Shelton te staan. Die Amerikaner het die Italianer Lorenzo Sonego vroeër in ʼn opwindende kwarteindstryd verslaan. Die ander halfeindstryd word beslis tussen die tienmalige kampioen, Novak Djokovic van Serwië, en die tweede gekeurde Alexander Zverev van Duitsland.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 22-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-963-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-757-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-44-sent per vat.
# En ten slotte: Die driemalige Oscar-benoemde, Ryan Gosling, onderhandel tans om die hoofrol te speel in ʼn nuwe Star Wars-fliek wat geskryf en geregisseer word deur Shawn Levy, wat Deadpool en Wolverine gemaak het. Die fliek is glo nie deel van die Skywalker-sage wat in 2019 met Star Wars: The Rise of Skywalker geëindig het nie. Gosling se jongste projek is die wetenskapsfiksieriller, Project Hail Mary, wat op Andy Weir se topverkoper gebaseer is. Dit sal na verwagting volgende jaar in Maart vrygestel word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….