Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Getuie in ‘n moordsaak word voor die hof in Lenasia doodgeskiet
# Rugby: Beserings noodsaak vyf veranderings aan Engeland se oefengroep vir die begin van die Sesnasies
# En Kaapstad is weer ‘n gunsteling vakansiebestemming vir internasionale en plaaslike besoekers
# Die polisie is op soek na twee verdagtes wat vandag ‘n 27-jarige man voor die Landdroshof in Lenasia, Gauteng, doodgeskiet het. Die slagoffer, ‘n getuie in ‘n moord, is genader en sonder enige waarskuwing geskiet. Een persoon is gewond. Die Gautengse polisiewoordvoerder, Mavela Masondo, doen ‘n beroep op enigiemand met inligting om hul naaste polisiestasie te kontak:
# Die Streekhof in Pretoria het die voormalige senior bestuurder van Eskom, France Hlakudi, se belastingbedrog-verhoor van 30-miljoen-rand tot Maart uitgestel. News24 berig die vertraging is om die Suid-Afrikaanse Inkomstediens toe te laat om nuwe dokumente van Hlakudi te oorweeg. Daar is 44 aanklagte van bedrog en belastingontduiking teen Hlakudi, wat verband hou met sy persoonlike belasting en Eskom-transaksies. Die verhoor het in November begin toe verskeie getuies geroep is. Hlakudi en die voormalige Eskom-bestuurders, Abram Masango en Maphoko Kgomoeswana, word in ‘n aparte saak oor die Kusile-kragstasie ook beskuldig van korrupsie van 1,4-miljard-rand.
# Die gesinne van die Suid-Afrikaanse ingenieurs, Frik Potgieter en Peter Huxham, het die minister van Internasionale Betrekkinge, Ronald Lamola, se diplomatieke besoek aan Ekwatoriaal-Guinee verwelkom. Hul bepleit ‘n vinnige oplossing vir die twee mans se aanhouding. Die mans het in die land se oliesektor gewerk en word sedert Februarie 2023 aangehou. Lamola het as president Cyril Ramaphosa se gesant bilaterale betrekkinge en diplomatieke aangeleenthede met die minister van Buitelandse Sake in Ekwatoriaal-Guinee bespreek. Familieverteenwoordigers het verwys na die emosionele uitwerking op die betrokkenes en die hoop uitgespreek dat die mans se vrylating bespoedig sal word.
# Rugby: Die hoofafrigter van Engeland, Steve Borthwick, het vyf plaasvervangers opgeroep om by sy groep aan te sluit vir die eerste ronde van die Sesnasies. Dit volg na beserings aan Alex Coles, Jack van Poortvliet, Alex Mitchell, die voormalige kaptein, Jamie George, en Alex Dombrant. Die span begin vandag met sy voorbereidings vir die kompetisie met ‘n oefenkamp in Girona, Spanje. Hulle speel volgende naweek in Dublin teen die verdedigende kampioen, Ierland. Frankryk en Wallis begin die seisoen in Parys en Skotland en Italië sal sake uitspook op Murrayfield in Edinburgh.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 22-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-816-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-729-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-16-sent per vat.
# En ten slotte: Kaapstad het weer ‘n besonder goeie Desember-tydperk beleef met meer as ʼn halfmiljoen besoekers en jaar-tot-jaar-groei van drie-persent. Die Kaapstadse Internasionale Lughawe het meer as 160-duisend internasionale besoekers en 362-duisend-222 plaaslike besoekers verwelkom. Streeksvlugte het die grootste groei getoon met tien-duisend-491 passasiers wat ʼn styging van 22,5-persent is. Kaapstad Toerisme se uitvoerende hoof, Enver Duminy, sê hierdie syfers toon die toenemende vertroue in die Moederstad as ʼn bestemming wat besoekers uit alle uithoeke lok:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….