Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie bevestig die arrestasies van die vermeende baasbreine in die onwettige mynbedrywighede in Stilfontein
# Tennis: Jannik Sinner verloor die eerste keer in 14 wedstryde ‘n stel, maar bly op koers by die Australiese Ope
# En, die Amerikaanse sangeres Keyshia Cole kanselleer haar Suid-Afrikaanse toer weens Los Angeles-brande
# Die polisie het die vermeende sindikaatbase van onwettige mynbou in Stilfontein, Noordwes, in hegtenis geneem. Dit volg ná bewerings van marteling, aanranding, verhongering en moord op onwettige mynwerkers by die verlate goudmyn. Die inhegtenisnemings is tussen Maandag en gister uitgevoer nadat van die mynwerkers in skag elf na die oppervlak teruggekeer en die verdagtes uitgeken het. Die polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe sê 87 liggame is teruggevind sedert die operasie begin het en ondersoeke duur voort:
Die ATM eis intussen aanspreeklikheid vir die lewens wat verloor is tydens die Stilfontein-mynkrisis in Noordwes. Die party gee die ANC-DA-geleide regering die skuld vir die versuim om die grense te beveilig en onwettige mynbou te beheer. Die woordvoerder, Zama Ntshona, vra sterker grensbeheer, optrede teen ondernemings wat vir verlate myne verantwoordelik is en ondersteuning vir plaaslike gemeenskappe:
# Die Vereniging van Staatsamptenare vra dringende optrede om die voortslepende skooltoelatingskrisis op te los. Duisende leerders is aan die begin van die nuwe skooljaar steeds nie geplaas nie en dit lei tot betogings. Die vereniging kritiseer die Departement van Basiese Onderwys oor sy versuim om infrastruktuur uit te brei om meer leerders te akkommodeer. Die vereniging se woordvoerder, Claude Naiker, het die departement aangemoedig om sekerheid by skole en regeringsgeboue te verbeter en sê die versuim om hierdie probleme op te los, stel werknemers se veiligheid in gevaar.
# Tennis: Wêreld nommer een, Jannik Sinner, het die eerste keer in 14 wedstryde ‘n stel afgestaan, maar het hom reggeruk om die verdediging van sy Australiese Ope-titel op koers te hou. Die topgekeurde Italianer was aanvanklik die kluts kwyt teen die Australiese promotorskeuse, Tristan Schoolkate, nommer 173 op die ranglys, maar het hom reggeruk om met 4-6, 6-4, 6-1 en 6-3 op die hoofbaan koning te kraai. Dit was sy 16de agtereenvolgende oorwinning en ʼn onheilspellende teken vir sy volgende teenstander in die derde ronde, Marcos Giron.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-88-sent teen die dollar, 19-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-12-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-707-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-69-sent per vat.
# Ten slotte: Die Amerikaanse sangeres, liedjieskrywer en aktrise, Kiesha Cole het haar Suid-Afrikaanse toer gekanselleer weens die verwoestende brande in Los Angeles. Volgens Melanie Ramjee van Tutone Communication het Cole haar huis verloor en kan nie met haar optredes voortgaan nie. Die span hou die situasie dop en sal volgende week meer inligting gee. Ramjee sê aanhangers sal per e-pos in kennis gestel word oor hul kaartjies.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….