Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is…….
In die bulletin:
# Die ANC-adjunkpresident se Khayelitsha-besoek ontaard in ‘n politieke ramp
# Matrieks sal more weet of hulle uitslae in die media gepubliseer word
# En, rugby: Kampioene- en Uitdaagbeker-aksie vir SA spanne dié naweek
# Die adjunkpresident van die ANC, Paul Mashatile, se deur-tot-deur-veldtog in Khayelitsha in die Wes-Kaap voor die party se saamtrek op 8 Januarie, het in chaos ontaard toe ‘n inwoner woedend geëis het dat die afvaardiging sy ma se huis verlaat. Mashatile se beskermers het die man verhinder om die huis binne te gaan. Die man het begin skree en het geëis dat die politici vertrek. Mashatile het die familie later om verskoning gevra en die blaam vir die voorval op sekerheidsprotokolle geplaas:
# Die Departement van Basiese Onderwys sê die dringende aansoek van die Inligtingsreguleerder om die publikasie van matriekuitslae te verhinder, is nie werklik dringend nie. Die uitslae word volgende week in Pretoria bekend gemaak, maar die hofstryd duur in die Hooggeregshof in Pretoria voort oor die balans tussen privaatheid en openbare toegang. Die Hof het aangekondig hy sal môreoggend beslis of die saak sal voortgaan. Die departement se regsverteenwoordiger, Marius Oosthuizen, het aan die hof gesê reguleerder het sy eie dringendheid geskep:
# Volvo-motors in Swede het verlede jaar rekordverkoopsyfers aangeteken, aangedryf deur ‘n toenemende aanvraag na sy elektriese voertuie. Die Chinese motorvervaardiger sê 2024 het ‘n verhoging van agt-persent in sy verkope getoon vergeleke met die vorige jaar, maar die syfer vir volle elektriese voertuie was 54-persent. Volvo sê hy het 763-duisend-389 voertuie verkoop, waarvan 175-duisend-194 ten volle elektries was met 177-duisend-593 hibriede voertuie.
# Die Franse president, Emmanuel Macron, het gekap na Elon Musk, miljardêr-eienaar van die sosialemediaplatform X en noue bondgenoot van die aangewese Amerikaanse president Donald Trump. Hy beskuldig hom dat hy “’n nuwe internasionale reaksionêre beweging” ondersteun. Macron het sy buitelandse beleid vir die komende jaar uiteengesit en Oekraïne versoek om realistiese verwagtinge te hê terwyl sy stryd teen Rusland sy vierde jaar binnegaan. Hy sê hy voorsien geen spoedige en maklike oplossing nie. Hy het ook gesê die Weste moet nie naïef wees oor die nuwe bewindhebbers in Sirië nie.
# Rugby: Suid-Afrikaanse spanne kry dié naweek die jaar se aksie aan die gang in die Kampioene- en Uitdaagbeker. In die Kampioenebeker kom die Haaie Saterdag in Durban teen die verdedigende kampioene, Toulouse, te staan. Die Stormers moet na twee nederlae teen die Sale Sharks in Kaapstad wen. Die Bulle is in dieselfde bootjie en het ‘n wegwedstryd teen Castres in Frankryk. In die Uitdaagbeker speel die Leeus teen Montpellier in Frankryk en die Cheetahs speel Sondag teen Zebre in Amsterdam.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-31-sent teen die euro en 29-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 100-duisend-692-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-655-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….