Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC tree op om Tony Yengeni en Obed Bapela te dissiplineer omdat hulle die party in onguns gebring het
# ‘n Nuwe ANC-lidmaatskapstelsel word bekendgestel tydens die party se 113-jaar vieringe
# En, rugby: Die Ackerley Sports Group wil ‘n nuwe ooreenkoms beding vir die Springbokke se kommersiële regte
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, het bekendgemaak dissiplinêre stappe word gedoen teen veterane van die ANC, Tony Yengeni en Obed Bapela, nadat hulle optrede skade berokken het aan die reputasie van die ANC. Yengeni word daarvan aangekla dat hy die ANC-leierskap op sosiale media gekritiseer en die MK-party van Jacob Zuma ondersteun het. Bapela is onder skoot na ‘n ongemagtigde reis na Marokko, strydig met die ANC se standpunt oor Wes-Sahara. Mbalula waarsku lede wie se gedrag verwarring veroorsaak, sal die gevolge moet dra:
Die ANC sal intussen ‘n nuwe lidmaatskapstelsel bekendstel as deel van sy 113de bestaansjaarvieringe. Die inisiatief weerspieël die party se fokus op vernuwing en die verbetering van interne prosesse. Die sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het op ‘n nuuskonferensie gesê die stelsel sal ‘n opdatering wees van hoe lede geregistreer en erken word, insluitend die bekendstelling van nuwe lidmaatskapkaarte:
# Die Premier van Noordwes, Lazarus Mokgosi, het ‘n beroep vir dringende optrede gedoen, nadat ‘n 16-jarige meisie op Nuwejaarsdag geboorte gegee het aan haar tweede kind. Dis twee jaar nadat sy haar eerste kind op 14 gehad het. Die meisie se eerste kind se pa was ‘n 15-jarige jarige seun en die tweede kind se pa is glo ‘n 35-jarige man. Mokgosi het owerhede versoek om die volwasse man te ondersoek en regstappe te doen teen diegene wat minderjariges uitbuit. Die jong ma, wat intussen die skool verlaat het, het haar swangerskap weggesteek.
# Die handel in aandele van Kenia se nasionale lugdiens, Kenya Airways het hervat, nadat dit langer as vier jaar opgeskort was. Die lugredery het in Julie 2020 vir ‘n opskorting gevra toe die regering ‘n wet voorgestel het om die beleërde redery te hernasionaliseer, te midde van die Covid-19-pandemie wat wêreldwyd verwoesting gesaai het onder lugreise. Die nasionaliseringsplan is daarna laat vaar en die lugdiens het verlede jaar vir die eerste keer in jare ‘n wins getoon. Die Keniaanse regering besit ‘n belang van 48,9-persent in Kenya Airways en Air France-KLM 7,8-persent.
# Rugby: Ackerley Sports Group beplan om ‘n nuwe ooreenkoms vir die kommersiële regte van die Springbokke te beding nadat sy aanvanklike bod misluk het. Die groep, met hoofkantoor in Seattle, se aanbod van 1,3-miljard-rand vir ‘n belang van 20-persent in die kommersiële regte van SA Rugby, is deur provinsiale unies verwerp, ten spyte van steun van die minister van Sport, Gayton McKenzie. Volgens News24 bly Ackerley optimisties, en wil saam met ‘n Suid-Afrikaanse konsortium werk. Die president van SA Rugby, Mark Alexander, beklemtoon strategiese groei om die finansiële ineenstorting van SA Rugby te voorkom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-39-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-644-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….