Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Desember 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF-leier herbevestig sy verbintenis tot ekonomiese vryheid op die nasionale volksvergadering
# Krieket: ‘n Reeksoorwinning wink vanaand vir Proteas in Centurion
# En die Gautrein bied ‘n spesiale diens vir Chris Brown se konserte
# Die EFF het sy verbintenis tot ekonomiese vryheid herbevestig en beloof om die stryd oor grondhervorming voort te sit. Die party hou sy derde nasionale volksvergadering, met afgevaardigdes van alle provinsies wat by Nasrec in Johannesburg byeengekom het. Die EFF-leier, Julius Malema, het in sy hoofrede gesê hierdie geskiedkundige vergadering is ‘n sleuteloomblik in die party se voortdurende stryd om ekonomiese bevryding vir Afrikane:
# Die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde verwerp bewerings van korrupsie, onreëlmatige werwing en finansiële wangedrag, soos vervat in ‘n brief deur ʼn anonieme verklikker aan die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau. Die buro ontken daar was buitensporige bonusse aan bestuurders en sê dis ongegrond. Die SABS het sy verbintenis tot die beskerming van verklikkers herbevestig en ontken daar was enige oortredings deur bestuur. Die DA kritiseer die leierskap van die SABS omdat hulle ‘n kultuur van vrees kweek en vra ‘n onafhanklike ondersoek.
# Die likwidateur Anoosh Rooplal het bevestig munisipaliteite wat deur die ineenstorting van VBS Mutual Bank benadeel is, sal ʼn uitbetaling van ʼn dividend ontvang. Altesaam 291-miljoen-rand van die tweede likwidasie-dividend van 458-miljoen-rand gaan aan munisipaliteite. Die dividende word aan altesaam vyftien munisipaliteite in Noordwes, Gauteng en Limpopo uitbetaal wat saam bykans 1,5-miljard-rand met die ineenstorting verloor het. MoneyWeb berig die uitbetaling verteenwoordig 20-persent van die eise van gesamentlike krediteure. Rooplal sê hulle probeer steeds bates herwin en daar kan moontlik verdere dividende wees.
# Krieket: ‘n Reeksoorwinning wink vir die Proteas in vanaand se tweede T20 teen Pakistan op SuperSportpark in Centurion. Suid-Afrika het Dinsdag se opwindende eerste kragmeting in Durban met ‘n skamele 11 lopies gewen. Die derde en laaste wedstryd word Saterdag in die Bullring op die Wanderers in Johannesburg gespeel, waar groot tellings aan die orde van die dag is. Daarna pak die twee lande mekaar in eendagwedstryde in die Paarl, Kaapstad en Johannesburg, gevolg deur toetse in Centurion en op Nuweland.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-89-sent teen die dollar, 18-rand-82-sent teen die euro en 22-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 100-duisend-89-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-667-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-43-sent per vat.
# Ten slotte: Die Gautrein sal hierdie naweek ‘n laataanddiens vir Chris Brown se konserte beskikbaar stel om naatlose reis te verseker. Die Amerikaanse sanger tree môre en Sondag op die FNB-stadion in Johannesburg op. ‘n Pendelbus is ook beskikbaar tussen Parkstasie en die stadion. Die woordvoerder, Albi Modise sê die laaste trein vertrek om middernag en standaardtariewe geld. Hy sê hierdie diens is ‘n poging om opeenhoping te verminder en openbare vervoer vir groot geleenthede in die provinsie te bevorder:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….