Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 Desember 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SAKP herbevestig sy voornemens om 2026 se plaaslike regeringsverkiesing onafhanklik te betwis
# Joe Biden reik 39 kwytskelding uit en verkort meer as duisend-500 vonnisse in sy laaste dae in die Ovaalkantoor
# En, rugby: Duhan van der Merwe besluit om in Edinburgh te bly
# Die leier van die SAKP, Solly Mapaila, beskryf die onlangse verkiesingsverliese as ‘n wekroep vir die party wat hom vir die werkersklas beywer. Hy het tydens die party se vyfde spesiale nasionale konferensie in Boksburg die ANC se samewerking met die DA gekritiseer en bevraagteken sy afwyking van die beginsels van die alliansie. Hy bevestig die SAKP sal die plaaslike regeringsverkiesing van 2026 onafhanklik betwis en beklemtoon die outonomie van die party binne die alliansie:
# President Cyril Ramaphosa vra sterker handels- en beleggingsbande tussen Suid-Afrika en Angola. Hy het tydens die Angolese president, João Lourenço, se staatsbesoek gesê beide lande moet nuwe ekonomiese geleenthede buiten die oliesektor ondersoek, veral op gebiede soos infrastruktuur, landbou en hernubare energie:
# Die uittredende Amerikaanse president, Joe Biden, het talle presidensiële kwytskeldings uitgereik en byna een-duisend-500 vonnisse verkort naby die einde van sy tyd in die Ovaalkantoor. Hy het 39 Amerikaners begenadig wat skuldig bevind is aan nie-gewelddadige misdade. Die besluit is beskryf as die meeste dade van presidensiële toegeeflikheid wat op ‘n enkele dag uitgereik is. Dit volg op Biden se omstrede besluit vroeër die maand om kwytskelding te gee aan sy seun, Hunter, wat skuldig bevind is dat hy ‘n onwettige dwelmgebruiker was in besit van ‘n vuurwapen, en belastingoortredings.
# Rugby: Die Suid-Afrikaanse vleuel, Duhan van der Merwe, wat vir Skotland en die Britse en Ierse Leeus speel, het sy kontrak met Edinburgh verleng tot minstens na 2027 se Wêreldbekertoernooi. Dit volg op bespiegelings dat hy na Suid-Afrika kan terugkeer of na Frankryk kan verskuif. Volgens Van der Merwe is die Skotse hoofstad sy tuiste en sy verbintenis met die klub en sy ondersteuners was ‘n belangrike oorwegingspunt in sy besluit. Hy is reeds Skotland se voorste drieëvraat met 30.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-68-sent teen die dollar, 18-rand-53-sent teen die euro en 22-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-273-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-705-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-19-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Studie van die Kommissie vir Geslagsgelykheid het ernstige seksuele teistering aan die lig gebring by die Nelson Mandela-, Noordwes- en Sol Plaatje-universiteit. Studenteleiers van Nelson Mandela het na bewering seksuele gunste vir verblyf geëis en sekerheidspersoneel diskrimineer teen LGBTQIA+-studente. Studente aan Noordwes het verkragtings, sekswerk en teistering aangemeld wat deur magsdinamika en dwelmmisbruik aangevuur word. Sol Plaatje het nie duidelike beleid en koördinering gehad om sulke voorvalle te hanteer nie. Universiteite beloof om hierdie bekommernisse aan te pak en veiligheidsmaatreëls te verbeter.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….