Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Desember 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê die Welisizwe landelike brûe sal toegang en veiligheid in Mpumalanga verbeter
# Rugby: Die Bokslot Salmaan Moerat keer terug vir die Stormers na ‘n besering
# En, Suid-Afrikaners se grootste Google-soektogte in 2024 verklap hulle sleutelbelangstellings
# President Cyril Ramaphosa sê die regering het sy belofte nagekom om werk te maak van vervalle brûe in Mpumalanga en het verskeie nuwe brûe bekendgestel as deel van die Welisizwe-program vir landelike brûe. Hy het die nuwe Bailey-brug amptelik in gebruik geneem. Ramaphosa het op die Solomon Mahlangu-stadion gewys op die voordele van die brûe vir landelike gemeenskappe, wat toegang tot skole, hospitale en dorpe verbeter, terwyl dit werk en sakegeleenthede skep:
# Action Society het die regering versoek om die nasionale register vir seksoortreders openbaar te maak. Dit volg nadat ‘n verslag aan die lig gebring het meer as 16-duisend onderwysers in Suid-Afrika het misdaadrekords. Woordvoerder Juanita du Preez sê die organisasie vra groter deursigtigheid om kinders te beskerm. Sy sê hulle eis dat ouers die misdaadagtergronde kan nagaan van persone wat hul kinders opvoed en versorg:
Die Stad Kaapstad het intussen ‘n tweedaagse slypskool aangebied oor Vaderskap vir die Toekoms, in ooreenstemming met die 16 Dae van Aktivisme-veldtog teen Geslagsgeweld. Deelnemers het mans en seuns ingesluit van Langa, Kraaifontein, Delft, Mfuleni en Kaapstad se middestad. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Patricia van der Ross, sê kuns en terapeutiese tegnieke is gebruik om dialoog aan te moedig:
# Rugby: Die Springbokslot Salmaan Moerat kan moontlik met sy terugkeer na ‘n besering onmiddellik in die Stormers se wedstrydgroep ingesluit word vir die naweek se Kampioenebekerwedstryd teen Harlequins in Londen. Hy het vroeg in September sy knie seergemaak. Moerat, wat die Bokke by geleentheid aanvoer, het saam met die span na Engeland vertrek. Die Bokke Manie Libbok en Ben-Jason Dixon moes agterbly nadat hulle verlede naweek harsingskudding opgedoen het teen Toulon. Verdedigingsafrigter Norman Laker beskryf Moerat as ʼn goeie leier wat baie vir die span beteken.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-77-sent teen die dollar, 18-rand-67-sent teen die euro en 22-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-274-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-695-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-82-sent per vat.
# En ten slotte: Google se Jaar se Soektogte vir 2024 onthul Suid-Afrikaners se sterk belangstelling in aktuele sake, vermaak, sport en nuus oor bekende persoonlikhede. Volgens News24 was Dricus du Plessis die gewildste onder sportlui terwyl Tyla die meeste navrae oor musiek gehad het. Die Verkiesingskommissie was die gewildste nuusgebeurtenis tydens die algemene verkiesing, gevolg deur die tweepotstelsel en die Amerikaanse verkiesing. Ander gewilde onderwerpe sluit in die vermiste Joslin Smith, die dood van die akteur Mpho Sebeng, en die Afrikabeker-sokkertoernooi.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….