Nuus 17:00
BULLETIN 26 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Interministeriële Komitee vorder met gesamentlike migrasiestrategie en deportasie-operasies
# Die Wes-Kaapse polisie waarsku teen aanhitsing voor die beplande betogings op 30 Junie
# En krieket, Kaptein Laura Wolvaardt vra die Protea-vroue vir nog ‘n groot oorwinning wanneer hulle Sondag teen Bangladesj speel
# Die Interministeriële Komitee oor Migrasie sê hy vorder met die instel van die gesamentlike migrasiestrategie, met voortgesette deportasie- en repatriasie-operasies landwyd. ‘n Gestruktureerde, wetsgebaseerde benadering deur verskeie regeringsdepartemente voer die afdwinging uit. Die fokus is op die verwydering van ongedokumenteerde buitelandse burgers en verbeterde bestuur van migrasieprosesse. Die voorsitter van die komitee, Mmamoloko Kubayi, sê daar is ‘n toename in arrestasies rakende immigrasie-oortredings:
# Die kommissaris van Polisie in die Wes-Kaap, Thembisile Patekile, het gewaarsku geen vorm van aanhitsing tot geweld of opruiende boodskappe sal voor Dinsdag se beplande betogings teen onwettige immigrante geduld word nie. Patekile sê die polisie sal genoeg beamptes regoor die provinsie, insluitend plattelandse gebiede, ontplooi en ‘n nul-toleransie-benadering tot geweld volg. Patikile, wat Dinsdag aftree, het gewaarsku geen wapens of gesigbedekkings sal toegelaat word nie:
# Die Gautengse Departement van Onderwys het skole opdrag gegee om agterstande op te klaar en te verseker alle leerders ontvang hul akademiese verslae so gou as moontlik. Dit volg ná die Suid-Afrikaanse Skooladministrasie- en Bestuurstelsel herstel is nadat ‘n tegniese fout in die ondersteunende Citrix-omgewing die stelsel ontwrig het. Die departement se woordvoerder, Onwabile Lubhelwana, het skole gevra om vinnig op te tree en te verseker geen leerder word sonder hul akademiese rekords gelaat nie:
# Koning Charles is die eerste Britse koninklike wat sy belastingrekening bekend gemaak het. Die syfers toon dat hy nagenoeg 280-miljoen-rand in belasting vir 2024 en 2025 betaal het. Dit plaas hom onder die top-100 Britse belastingbetalers. Die verandering in die publikasie van besonderhede van die koning se persoonlike belasting volg na oproepe vir groter deursigtigheid rondom koninklike finansies, na skandale rondom Andrew Mountbatten-Windsor. Parlementslede het kommer uitgespreek oor ‘n gebrek aan verantwoording en hierdie klemverskuiwing rakende die jaarlikse paleisrekeninge weerspieël die openbare goedkeuring vir groter openlikheid.
# Krieket: Kaptein Laura Wolvaardt het die Protea-vroue gevra vir nog ‘n groot oorwinning in Sondag se laaste T20-Wêreldbeker-groepswedstryd teen Bangladesj op Lord’s in Londen. Suid-Afrika het Nederland gisteraand in Bristol met 88 lopies geklop, maar is steeds derde in hul groep na Australië en Indië. As Suid-Afrika vir Bangladesj klop, is hulle steeds afhanklik daarvan dat Australië vir Indië klop om deur te dring na die halfeindronde. Wolvaardt besef ‘n paar dinge moet nog gebeur, maar hul sal dit stap vir stap aanpak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-995-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-48-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 72-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….